Verlede maand
Staat kan gerus parlement open voor onse skole
Foto:  ~ 

’N PAAR weke gelede het ek genoem dat ’n vervaardiger my vertel hulle is gevra om tot ’n miljoen ekstra body bags te vervaardig. Dit was ter voorbereiding van die sterftes weens Covid-19.

Tóé reeds het begrafnisondernemers in die Oos-Kaap gesê hulle het nie genoeg bergingsplek of plek in die begraafplaas vir al die slagoffers wat hulle verwag nie.

Die geskarrel duur voort.

Dié week sien ek daar is al meer as 700 kinders onder nege jaar oud wat in hospitale behandel word vir simptome van corona-virus. Laat dit insink.

Van hulle maatjies, boeties en sussies moet môre skool toe; met of sonder ’n masker, ongeag hul kindervrese en hulle ouers se worries.

Daar is reeds ’n aantal skole in die Wes-Kaap wat nie gaan heropen nie, want daar is positiewe Covid-19-gevalle.

Meer as 200 skole in Suid-Korea is genoop om weer te sluit weens ’n spike in corona-virus-gevalle. In China was daar ook ’n tweede vlaag infeksies.

Maar môre gaan ons skool toe. Môre beweeg ons na vlak 3.

Islam

Van môre kan ons drank van Maandae tot Donderdae koop. Van môre kan ons begin kerk hou of Duas maak mits ons nie meer as 50 mense is nie.

Volgens indexmundi.com identifiseer 86% van die Suid-Afrikaanse bevolking as Christene, 5,4 % volg tradisionele Afrika-geloofstradisies en 1,9% volg die Hindoe-, Islam- of Joodse geloof.

In die Kaap het van die moskees reeds standpunt ingeneem dat hulle nie gaan heropen nie.

Geloof en gebed is ankers in baie Suid-Afrikaners se lewe. Vandag is ’n nasionale biddag – wie en wat is op jou gebedslysie?

In die Joodse geloof word daar dikwels na die Talmud verwys en die beskerming en behoud vir lewe. “To save one life is to save an entire world.”

As jy één lewe red, oortref jy al die goeie dade wat jy al in jou leeftyd kon doen.

Dit is nie ’n ligte besluit om te heropen nie, al sê die president dit is nou in ons hande.

As jy in die tyd sedert die inperking ’n geliefde moes begrawe, sal jy verstaan hoe hartverskeurend dit is as daar net ’n beperkte groepie roubeklaers is wat mag kom afskeid neem.

As dit weens Covid-19-komplikasies is, is dit nog moeiliker, want hulle het waarskynlik alleen gesterf.

Die winter is op ons. Die positiewe Covid-19-gevalle en sterftes styg nou vinnig en gaan vir seker ná môre eskaleer.

Hoe berei ons ons sielkundig en emosioneel voor vir die ongekende stortvloed wat op ons wag? Ja, ons wil nie hê ons mense moet van die honger sterf nie. Maar het ons regering genoeg gedoen om ons te lei; om sy beloftes van kos vir die honger miljoene, sanitasie by skole en geldelike hulp na te kom?

’n Emosionele inbeller vra dat die parlement eers moet open voordat sy haar kleinkinders skool toe stuur.

Feit is – die meeste van die besluitnemers val in die hoërisikogroep en is vatbaar vir Covid-19.

Pres. Cyril Ramaphosa, Bheki Cele, Naledi Pandor, Zwelini Mkize en Tito Mboweni is almal in hul 60’s. Ander parlementariërs is al oor 70.

Die honourable members antie Angie en antie Dlamini-Zuma is onderskeidelik 64 en 71.

As hulle verwag ons oues van dae moet by die huis bly, waarom geld dit nie vir hulle nie?

Dit is vir geen ouer of gelowige ’n maklike besluit nie. Ons soek antwoorde, troos, wysheid, kos, hulp en genade van Bo.

Ons wil lewe, maar ons besef ons “normaal” sal nooit weer dieselfde wees nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters