9 maande gelede
Roetine help my soggens reg fokus
 ~ 

DIS ’n nuwe jaar en ek glo mos nie in Nuwejaarsvoor­nemens nie.

Ek glo wel jy moet ’n plan hê met jou lewe, en jou ingesteldheid en benadering moet op koers wees met wat jy wil bereik.

Ek kry gereeld versoeke op Facebook van veral jong mense en vroue oor “surviving life as besigheidsvrou en enkelma”.

My benadering is nie ’n one-size-fits- all-benadering nie, want ons is almal verskillend en uniek. ons omstandighede en uitdagings verskil soos die maan en die sterre.

Hierdie is vandag ’n gesels-rubriek en dis baie persoonlik. Dis hoe ek my oggend aanpak sodat ek vars en vrolik by die werk uitkom vir my show en nog die aand net so vars en vrolik die nuus kan lees.

So, hoe kry jy jou kop skoon as die worries, onsekerheid en vrese jou nugtere denke oorheers en jou slaap opvreet?

Hier is ’n paar vinnige punte oor my survival-roetine soggens.

Ek doen ’n paar jobs, het my eie besigheid en Maya begin (juis môre) met die kleuterskool. Ek gaan nou ’n halfuur vroeër opstaan, so teen 04:30 sodat ek “me time” kan hê.

Goeie beplanning help jou om te fokus en dit verbeter ook jou geheue en produktiwiteit. Dié tegnieke kos jou niks nie. Dit is net ’n paar wenke wat jy kan oorweeg.

As ek wakker word, skryf ek in my gratitude journal. Net drie dinge, maar ek doen ’n bladsy. Gebruik enige boek en pen, met of sonder lyne en hou dit op dieselfde plek.

As jy nie kan waardeer wat reeds in jou lewe is nie, steek jou kop vas by alles wat verkeerd is in jou lewe.

Dié kinderkoortjie pas ek vandag nog toe. “Tel jou seëninge, tel hul een vir een...”

Ek maak my bed op kort daarna. ’n Skoon omgewing help met ’n skoon kop. Dan mediteer en bid ek vir so tien minute. Ek brand wierook (miangstokkies) en raak stil.

Ek borsel my tande met die teenoorgestelde hand. Dis ’n truuk wat ek by die leerkenner en entrepreneur Jim Kwik geleer het. Wanneer ’n mens jou teenoorgestelde hand as jou dominante hand gebruik, skep jy meer neuro-verbindings in jou brein.

Ek kleur in soos toe ek nog op skool was. Die fênsie titel is deesdae kleurterapie. Ek het inkleurpotlode en kaarte. En as ek onder druk voel, kleur ek in.

Dis verlede jaar se ding wat ek kantoor toe gebring het. My desk calendar het nou ook ’n kreatiewe spasie waar ek kan inkleur. Dit help om my kop skoon te kry en die mind mapping of doodles lei na nêrens.

Koop sommer net ’n goedkoop inkleurboek en potlode en begin. Veral as jy sukkel om nugter te dink of jy moet belangrike besluit neem. Jy herlei jou breinpatroon weg van die onmiddellike krisis.

Ek doen nie brekfis nie, maar maak groente, vrugte en proteïen-smoothies.

Pleks van gym (kos te veel geld), doen ek burst training, boks en as daar tyd is, dan gaan draf ek oor naweke. Weeks­oggende is te hectic om vir Maya in die kar te kry, af te laai en in te settle in haar klas. Ons moet teen 06:30 ry, want 08:00 moet ons kan saampraat.

Soos die kenners sê: “Failing to plan is planning to fail.”

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters