11 dae gelede
Regte kandidaat bly juggling act
 ~ 

POLITICI is ’n besondere groep mense. Uit respek skryf ek maar nie “spesie” nie.

Daar is die jong Turke, die career politicians, die fly-by-nights en die kanniedoods. Dit is verstommend dat so baie die politiek ’n loopbaan gemaak het.

Ek onthou die Morkel-seuns wie se pa, Gerald, in die vroeë negentigs hul pad oop geloop het.

Hy was nog ’n remnant van die ou driekamerparlement toe eerw. Allan Hendrickse nog geleef het. Toe word hy lid van die Nuwe Nasionale Party en daarna die DA in sy nuwe gedaante.

Dan is daar die Mulder-broers, Connie en Pieter, die veterane Patricia de Lille, Helen Zille, Mosiuoa Lekota en Bantu Holomisa. Én ’n stalwart soos Mangosuthu Buthelezi, sonder wie jy jou die politieke landskap in die land nie kan voorstel nie.

Dan is daar, enig in sy soort, Pieter Marais, voormalige Kaapstad-mayor.

Hy was nog voor die nuwe jaar die stem en gesig van ’n ander party.

Nou pryk hy as premierskandidaat vir die VF+ in die Wes-Kaap.

Hy’s ’n kleurvolle karakter, om die minste te sê. Lief vir sing.

Hy sê, onder meer, hy praat nou vir alle minderhede onder die vaandel van sy nuwe tuiste.

Ek wonder wat sê die broers van sy voormalige tuiste wat enkele maande gelede nog saam brood gebreek het, hard besig om ’n manifes te formuleer. Hulle is glo nie alte hêppie nie.

Ek hoor deur die grapevine dat nóg ’n burgemeestersketting op Zille, vorige leier van die DA, in ’n ander dorp wag.

Die oes vir die Wes-Kaap is glo min en om alles in één kandidaat te kry, is glo ’n juggling act. Dan Plato, Ivan Meyer, Alan Winde ... Wie het die plaaslike universele aanhang wat die DA soek vir die leemte wat De Lille en Zille gelaat het?

Kan die kandidaat met gemak die privaat sektor charm en op voetsoolvlak die massas laat saamtrek?

Die DA gaan ’n knou vat, ongeag hoe hy die boodskap van verandering na die kiesers plooi.

Jy kan nie jou nasionale leier in die openbaar ondermyn en weerspreek en dink niemand let op nie. Te lank was sy opposisie politieke strategie op Jacob Zuma se exit geskoei.

By Vrydag se politieke debat wat ek by die Woordfees gelei het, het die ervaring van Ebrahim Rasool (eens premier van die Wes-Kaap) en dr. Pieter Groenewald duidelik na vore gekom. Hulle weet hoe om politieke punte te score en met fyn humor stekies in te kry.

As jy met die gehoor praat, moet jy lyk asof jy jou storie ken, al is dit ook duimsuig en omseil. Kyk hulle in die oë en praat met hulle met oop lyftaal en vol selfvertroue.

Maar ons het te min debat in SA. Ons toets nie politici nie en weeg hulle nie op nie. Dus is dit ’n geval van dieselfde gesigte, dieselfde deuntjies. Hoeveel kiesers doen moeite om partye se manifes te lees? Ek gee toe, die EFF s’n is byna ’n 50 Shades of Grey novel, maar dit gee jou ’n kans om hom te interrogate.

Verdien die huidige LP’s die setels wat hulle besit? Werk hulle vir jou stem en dien hulle jou? Is dit oukei dat hulle eendag onder die vaandel van een party se kleure werwing doen, inkom en dan jou vertroue verraai? Dit lyk my waardes en politieke beginsels is steeds te koop in Mzansi.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters