18 dae gelede
Proteshoofstad nou hier by ons
 ~ 

ONS betoog teen die hoë brandstofprys en -heffings.

Ons skreeu van hier tot in Pretoria dat ons lywe nie ’n crime scene is nie in die #TotalShutdown-massaveldtog van vroue. Ons skep hutsmerke met die hoop dat ons klaagliedere en pleidooie gehoor, gesien en gerapporteer word. Maar niks maak nie.

Juju skiet liewer ’n AK-47 in die lug as deel van die “ vuurwerke” van feesvieringe by hul verjaardagsaamtrek.

#SendMe-Cyril, ekskuus, die agbare president, ontmoet die vrouebetogers amper­ voor Aspoestertjie se slaaptyd en ontvang hul griefskrif.

Maar hulle swyg oor hul voetslepery destyds met Manana se aanranding op vroue in ’n klub. Toe ruk en pluk hy glo weer sy huishulp van Zimbabwe en kry druk van bo om te bedank.

Hoe moet ons die politici glo as hul oggendpraatjies en aandpraatjies ruik soos die oop puttoilette waarin ons peuters verdrink?

Wie kon die protesoptogte bywoon? Hoe weet ons die saak waarvoor jy staan, sal die aftrek kry om beleidsmakers te beïnvloed? Watter tipe kwessies kry dekking en watter word afgemaak as maar net nóg ’n optog?

Onthou jy hoe die Treatment Action Campaign destyds die gesondheidsbeleid onder oudpres. Thabo Mbeki gekritiseer het?

Toe is ons vertel ons moet net meer aartappels, uie en beet consume, dan sal die virus nie ons immuniteitstelsel afbreek nie. Toegang tot vigsteenmiddels was soos kaartjies na die maan – ’n geval van wishful thinking.

Hulle het egter onverskrokke aangehou met hul protes en druk. Dit was immers ’n saak van lewe en dood en ná vele hofsake is antiretrovirale middels deel van ons oorlewingsplan vir vigslyers.

Quinton Adams, ook bekend as “ Shackbuilder” in die townships, leun op sy navorsing oor maatskaplike kwessies en vertel my verset onder Suid-Afrikaners het baie te doen met die “sosiale kapitaal” van ’n groep wat protesteer, of met hul politieke invloed.

As hulle boonop nie kan mobiliseer of formaliseer as ’n beweging nie, is hulle die spreekwoordelike lost cause. Hul saak sal nooit die tipping point sien nie.

Jou saak mag meriete hê, maar as jy nie kan mobiliseer nie, sal jy nooit die numbers trek nie. Hoeveel keer was daar ’n march en dan soek jy nog die marshalls? Of die busse en bakkies moet gereël word sodat mense ten minste kan opdaag?

Jy moet amper ’n events organiser wees om als te koördineer. Hashtag, tjek; banners, tjek; T-shirts, tjek; luidspreker, tjek. Media? Uhm, dalk as daar tyres brand.

Suid-Afrika word deesdae as die proteshoofstad in die wêreld beskou.

Probeer ’n oorskakeling na ’n nuus­ateljee doen tydens ’n regstreekse protesoptog. As hulle jou nie uit die pad loop nie, druk hulle jou kameraman na sy maai of beroof jou sommer on air terwyl die volk toekyk.

Ontwrigting trek aandag. Maar optoggangers moet ligloop vir verskuilde agendas en politiekery.

Al het jou optog die nasionale nuus gehaal, beteken dit steeds nie dit het beleidsmakers se ore bereik nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters