Verlede maand
President lyk of hy in ’n koma is
 ~ 

EK LUISTER so na die president se speech op Mense­regte­­dag en dink: Hy lyk so genuine en benadruk ge­lyke regte vir álmal deur die bank.

Die ander dag toe hy ’n trein soos ’n regular pendelaar gery het, het hy ook soos een van ons gelyk. En toe laat die diens selfs hóm in die steek, en toe hoop ’n mens hy móét besef waarom Suid-Afrikaners wat afhanklik is van openbare vervoer, so gefrustreerd is.

Vir ’n oomblik het dit gelyk asof die president ons lot verstaan, maar toe sien ek weer sy I-didn’t-know look in sy gesig. So asof die reality van hustling om ’n bestaan te voer in Mzansi, hom verbygaan.

Ek dink ons president is out of touch met Jan Alleman.

Hy móét wees, want hy was laas ook so shocked met beurtkrag. Nou weer die rit op die trein. Én toe die VBS-skandaal onthul is … Ek worry daaroor dat die president so geskok is. Weet hy dan nie wat in die land – wat eintlik sy constituency is – aangaan nie?

Hy het nie geweet treindienste is so sleg nie. Waar was hy dan die laaste paar jaar toe treine oor die land heen gebrand en hordes pendelaars aangeval is?

Hy het nie geweet beurtkrag was so erg nie. Huh? Toe stage 4 ons laas so getref het, was hy geskok! Seriaasly geskok! Maar hy was dan destyds ’n lid van die taakspan in die Eskom war room.

Het hy nie die gesprekke gevolg nie? Waar is sy raadgewers? Met wie omring die president hom dan dat hy nie weet wat op straatvlak aangaan nie?

Is hy so besig om sy rug te watch vir ál die backstabbers in sy party dat hy uit voeling is met ons gewone mense?

Toe die minister van openbare onder­nemings, Pravin Gordhan, dié week op ’n perskonferensie voor ons oë ’n skaduwee raak (die beligting was swak weens beurtkrag), moes hy mos besef het die gat is groter en dieper as wat hy gedink het.

Daar sê Gordhan korrupsie, gebrekkige instandhouding, die verlies aan kundigheid en steenkool­tekorte is van die redes waarom ons sonder elektrisiteit sit. Kyk hoe explode die een kragstasie ná die ander! En óns is die mense wat suffer.

En om sout in ons wonde te vryf, verneem ons sowat 3 000 Eskom-werkers doen sake met hul werkgewer. Praat van double dipping! G’n wonder die kompe­tisie word uitgesluit nie, want daardie lot moet hul belange beskerm.

Meneer die president, besef jy watter sielkundige uitputting ons daagliks verduur om tot op drie keer per dag sonder elektrisiteit te moet rondskarrel? Dít om te was, te kook, die fridge te check, by die werk uit te kom, seker te maak ’n mens is veilig tuis, terwyl die duisternis ideaal is vir boosdoeners. Ons het nie lyfwagte en solar panels nie; primusse, kerse en lampe wel.

Die hele week gooi ek net wet look, want daar’s nie tyd vir ’n hairdresser nie.

Ek voel die frustrasie in die nuuskantoor, in verkeer, in winkels ... En dís maar net die begin van die suffering, sê die kenners.

En ons gaan nou ook meer betaal vir ons elektrisiteit. Wie gaan die president van ál die dinge vertel? Want hy is in die donker oor soveel dinge ...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters