5 maande gelede
Pres. Cyril, roei die parasiete uit
Cyril Ramaphosa is vroeer vanaand as ANC-leier gekies.  ~ 

TWEEGATJAKKALS noem die beskaafde ouer mense iemand wat sy of haar mantel na die wind draai. Oppie Flêts is jy pleinweg ’n twiegavriet.

Deesdae ly ’n paar ministers blykbaar mos aan geheueverlies: Vergeet hul name word gekoppel aan staatskaping; gee voor hul GPS en lyfwagte ken nie (meer) die pad na die Saxonwold Shebeen nie.

Net die ander dag ontken die adjunk­minister van openbare ondernemings, Ben Martins, dat hy Tony Gupta ken.

Lucky Montana, voorheen van Prasa, het die broers glo aan hom voorgestel.

Lucky sê issie soe nie. Lucky en Ben is soos twee mans wat ’n kind se vaderskap betwis en hulle nie vir dit wil laat toets nie oor hulle weet die waarheid sal uitkom.

Vat Lynne Brown: Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, sê sy lieg en sy’t die ministeriële gedragskode verbreek. Brown het die portefeuljekomitee glo mislei deur te getuig daar is geen kontrakte tussen Eskom en Trillian nie.

Brown het destyds die rade van die maatskappye geblameer en gesê hulle het háár mislei. Die OB sê pres. Cyril Ramaphosa aan om Brown binne 14 dae te fire. Oe, dis nie net mantel-dinge nie, dit is sommer powerplay op hoër graad.

Vat Malusi Gigaba (’n omroeper noem hom Maluti Gigupta): Praat van swag, nè? G’n wonder sy Instagram profile buzz heeltyd nie. Tailor-made and be­spoke, soos die fashionistas sal sê. Maar die armes se lap is klein gesny as ’n mens sy begroting ontleed.

VAT is op van 14% tot 15%, maar ons moet glo juig dat brood, meel en rys nog “bekostigbaar” is. Ja, rait. Die shine van die suit gaan gou verdof wanneer hy gepos word, maar diegene wat agterbly, gaan steeds honger ly.

Ek-ly-eintlik-aan-epilepsie Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling en Sassa-wansake, ken deesdae darem haar plek.

Dit lyk asof sy permanent in die ruimte is; die sein vanaf die aarde is dat haar soustrein binnekort sal ontspoor. Dié einste minister het gesê sies, ANC, dat net een vrou in jou top-ses is, maar sy daag op vir ’n geselligheid met net mans in haar entourage, want vroue is mos “te emotional”. #HelpVirHenna.

Vat Mosebenzi Zwane. Hy wat in Doebai was, maar nooit by die Guptas gekuier het nie, julle. Hy was dié week weer ’n no-show vir die parlement se portefeuljekomitee. Laas keer ook, maar toe was hy “siek”; dié week moes hy ’n NCOP-vergadering bywoon.

Kantie was daar nie eens so ’n vergadering nie. Het hy genuine gedink niemand sou op-check nie? Zwane moet nog sy voorstelle vir die wysigings aan die nuwe Mynhandves loop verduidelik.

Die Suidooster is meer voorspelbaar as die winde van verandering.

Die prez vat ’n long walk in Athlone en gaan speel gholf terwyl ons wag vir ’n kabinet­skommeling en dat die manteldraaiers hof loop.

Ek hoop nie sy mooie #SendMe refrein gaan ’n vals noot slat nie.

Ons weet Brian Molefe word Pappa Action genoem, Mr. President, maar SA Inc. vra u: Kap die dooie hout uit.

Woorde wek, maar voorbeelde strek.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters