3 maande gelede
Pak argumente, nie die persoon
 ~ 

AS JY nie die geskiedenis van Mzansi se onderdrukking en bevryding beleef het nie, kan ’n mens jou dalk nog verskoon dat jy jou tjatjarag met die elders hou.

Jy’s waarskynlik nat agter die ore, sê die mooi Afrikaanse beskrywing. Maar Cape Flats slêng sal jou vra waar kom jy aan jou nwatta gedagtes, huh?

Dit beskryf die gedrag deesdae van sommige jong fighters van die EFF as hulle met die Cope-leier, Mosiuoa Lekota, op openbare vergaderings mors. Hou egter in gedagte dis nie alle lede van die EFF nie. Ek ontmoet gereeld bright sparks in die party. Manne en vroue met grade agter hul naam en ’n kop op hul skouers.

Die onnodige uitjouery van Lekota is nie hoe ons grootgemaak is nie, gentlemen. As jy van ’n ou verskil, vat jy sy argumente aan, nie sy persoon nie. Dit spreek meer van jou eie onvolwassenheid en gebreke.

“Terror” is nie meer ’n springbokkie nie. Die oompie stap aan. Hy is ’n deurwinterde politikus wat respek afdwing by sy portuur en vryheidsvegters. So what as hy ontnugter is deur ou ANC-kamerade en sy eie party gestig het?

Ek onthou so tien jaar gelede was ons albei laat vir vlugte na Kaapstad en op stand-by.

Hy was egter die vurige politikus en het voorkeur gekry. Ek sou hom van tyd tot tyd op my skerm sien tydens onderhoude, maar het lanklaas net gesels – tot dié week toe hy op ’n politieke paneel was by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se eerste Thought Leadership-reeks oor grondhervorming.

Die laaste ruk is hy onder skoot vir sy uitsprake oor grondhervorming sonder vergoeding. Onlangs sit hy en Juju langs mekaar op ’n verhoog en albei raak warm onder die kraag en begin na mekaar hap. Honourable member Lekota moes skuif.

Die gees van politieke debatte is onvoorspelbaar. Humeure vlam op en stoele word gegooi. Jy vat nie kanse nie, veral nie met hoëprofielgaste op die paneel nie. Jy kan ook nie die vlakke van jou gehoor onder- of oorskat nie. Jy beplan vir elke moontlikheid.

Met die openbare sittings oor grondhervorming sien jy die laaste ruk hoe die brandpunte oor grond mense skroei en die emosies ruk handuit.

Jy loop katvoet, want politici kan maklik ’n gevange gehoor uitbuit en aanhits. Dit was egter nie die geval by die UV-gesprek met die politici nie. Gewoonlik gebruik politici hul drie minute in die parlement vir grandstanding. Die afgevaardigdes was dalk hier en daar katterig, maar dit het nooit ontaard in ’n katgeveg nie.

Lekota hou voet by stuk daar skort niks met die Grondwet nie – ons moet die waardes, beginsels en gees waarin dit geskryf is, ons grondwetlike bybel maak.

Daar is ’n sterk beweging om art. 25 van die Grondwet te herskryf om grondonteiening sonder vergoeding te bespoedig. Lekota sê die fout lê by die ANC, nie by die Grondwet nie.

Terwyl ons weer Donderdag op die lughawe sit en gesels ná ’n vertraagde vlug, besef ek opnuut ons word almal ouer.

Wie gaan Bantu Holomisa, Mangosothu Buthelezi en die Terror Lekotas opvolg as hul stemme soos uTata Madiba stil word? Is daar jong Turke aan wie ons ons geskiedenis, ons struggle, ons trane, die Grondwet en stemme kan toevertrou?

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters