6 maande gelede
Ou Zuma steeds goed ‘op die job’
 ~ 

OUD maar nog lank nie koud. Awê, Msholozi, awê.

Nóg ’n keer ’n baby daddy op 76! Sommige oupas soek al hul kunstande en Viagra op daai ouderdom, maar Mr. Nkandla sow stééds sy oats en vat boonop binnekort sy sewende vrou! Ene wat sy kleinkind kon gewees het, maar eersdaags is sy ’n missus.

Sy teken glo al sedert 2013 nie die gasteboekie by Nkandla nie. Sy is al ’n regular kuiergas met sleepover rights vandat sy 19 was. Tjô, tjô, tjô. Woelig, nè?

Voor die geboorte van haar seun was Nonkanyiso Chonco ’n direkteur by ’n kultuur-en-jeugorganisasie in Pietermaritzburg, waar die klem sterk val op die bewaring van die Zoeloe-kultuur en waar hulle nog maagdelikheidstoetse promote. Sy besit glo ook ’n massage parlour.

Ek kan my indink hoe strelend dit kan wees as sy haar vakgebied bemeester. Veral Zuma se laaste paar maande. Die stres van byna 250 klagte teen jou, die moontlikheid dat ’n ander brainy ou jou job wil kaap en jy in die tronk kan shower, sal enige mens knak.

Dit skep knope en bulte in enige man se lyf. En dit moet gemasseer word. Letterlik.

UBaba het glo meer as 20 babies. Hier worry ons oor die koste van kind grootmaak, maar hy kap net aan. Maar as jy sy moves op die dansbaan sien, weet jy die man het swag.

Dalk het hy die Love Potion No. 9 se geheim. Of dalk sing hy sweet love songs wat vroue laat swig. Of dalk is hy maar net 24/7 lus en gee homself oor aan sy behoeftes.

Hoe hierdie verhouding persepsies oor “blessers” en transactional seks voed, los ons maar vir ’n ander dag.

Kyk dan wat doen Kate en William van Cambridge aan sy boetie, Harry. Prins Harry en die mooie voormalige aktrise Meghan Markle trou in Mei en sy kanse om die koning van Engeland te word, word met elke kind se geboorte teruggeskuif.

Hulle het nou hul derde kind en boonop ’n seun. Meghan en Harry moet maar so vinnig moontlik hul eie kroos begin, want ’n troon anders as in sy badkamer gaan Harry nie gou sien nie.

Ek weet nie watter wonderlike doepas Kate drink of watter make-up artist sy het wat haar ná ’n geboorte soos ’n maagd kan laat lyk nie. Sy is die middag in, teen vieruur het sy die lewe geskenk en kom vars en vrolik uitgestap asof sy blomme vir ’n pasiënt gebring het.

I mean, wie lyk só nadat jy ’n kind gekry het? Nie eens ’n flush op haar gesig of ’n sweetdruppel op haar voorkop nie.

Miskien moet ons die baar van kinders anders benader. Sommige sien babas as hul meal ticket na ’n beter lewe of sterker magsposisie.

Ek is seker daar is sommige vroue en mans wat Msholozi en Kate se benadering fyn dophou. Hulle kan selfs ghoeroes van ons tyd word. Maybe.

Ek wil juis op my “hoë” ouderdom ’n tweede kind hê. Ek ignoreer maar die vuil kyke en sarkastiese snorke van my vriende. Onthou nou, die mediese deurbrake is verstommend en deesdae is alles mos moontlik!

Maar ’n pa van 76! Ek sal seker eers sterk doepa van hertogin Kate moet bedel en drink om die nugtere denke te smoor.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters