Verlede maand
Ou liefde bring weer daardie gloed wat hele lewe ophelder

DIE laaste keer toe ek soos ’n gloeilampie gegloei het, was in 2014 toe ek onverwags hoor ek is swanger.

Nou glow ek weer met ongekende liefde.

Wel, dis nou al ’n paar maande dat ek so kamers, gange en skermpies verlig, want ek voel ek sweef op die wolke.

Jy sien, liewe leser, ek het lief. Innig, onmiskenbaar lief... Vandag is ek presies ’n week verloof aan ’n man vir wie ek al as 20-jarige sinneloos geswig het.

Dit is die soort liefde wat my sommer weird goed laat doen.

Dis dieper as muisneste. Dis ’n malfunctioning in my brein wat my laat kop verloor. En ek verloor nie maklik kop nie, trust me.

Laat my toe om te verduidelik.

Ek en my aanstaande het die eerste keer begin vry in die dae toe daar nog afbakening tussen die verskillende rasse was.

Preekstoel

As ek op die jeugkamp wou gaan, moes die kerkbestuur aansoek doen vir ’n permit sodat ek op die kampterrein kon slaap. En dít is elke keer afgekeur.

Dis daai jare toe die predikante jou elke Sondag vanuit die preekstoel herinner het dat “unequally yoked” in Bybelterme beteken “soort bly by soort”.

So, daar was baie vryery onder die dekmantel toe ons kortstondig gedate het.

Sedertien was ons nog altyd pelle. Ek met my lewe hier en hy oorsee.

Tot verlede jaar, toe ons weer vir koffie ontmoet en gesels het soos in die ou dae. My brein het toe van voor af begin malfunction in sy geselskap.

Ek verloor my woorde, ek raak skaam, verpas my vliegtuig terwyl ek ure op die lughawe sit, bagasie ingeboek ...

Maar madam sit mos rustig en whatsapp terwyl sy champagne in die airport lounge drink.

Dít terwyl die lugpersoneel my tasse van die vliegtuig aflaai, want ek daag net nie op om aan boord te stap nie.

Of soos die dag toe ek ook nog voor ons demokrasie teen ’n stink spoed in my Nissan Sentra in ’n systraatjie afjaag en elke geparkeerde kar skraap soos wat ek ry.

Dít is die level van chemiese wanfunksie waarvan ek praat sodra ek die man gaan sien.

G’n wonder ek het van skok my balans verloor en amper oor ’n paar stoele gestrompel toe hy my vra om met hom te trou, nie.

“Is jy ernstig?” Hy sê ek het seker so vyf keer dié refrein geprewel totdat hy my daaraan herinner het ek het nog nie “ja” gesê nie.

Dit is ’n groot liefde waaroor ek as 20-jarige dagboek gehou het. En ek het tot vandag toe nog ál daai dagboeke.

Dis ’n liefde vir wie ek gedigte en liefdesbriewe geskryf het – wat ek nog altyd in ’n geheime kluis gebêre het.

Toe ons vriendskap verdiep, het ek hom uiteindelik dié “dokumentasie” gewys.

Hy is vandag weer deel van my siel, my hart en my kop. Dekades lank is hy steeds my pel en nou is hy my teruggevonde liefde.

My beker loop oor te midde van al die pyn van die laaste jare. #Finally.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters