5 maande gelede
Ons praat nog te vlak oor ras in SA
 ~ 

MICHAEL Jackson was glo verkeerd toe hy gesing het “It don’t matter if you’re black or white.” In Mzansi “matter” dit baie.

Met ons geskiedenis van rasverdeling vergeet ons dikwels mense is meer as net hul kleur, hul opvoeding, hul status of salarisstrokie. Ras en die gesprekke oor ras is kompleks en kan nie in een TV-program of koerantberig klinkklare antwoorde of oplossings oplewer nie.

Tog voel dit soms asof ons quick fixes verlang en asof ons verwag ál die bagasie van die verlede moes die afgelope 20 plus jaar al uitge-sort gewees het.

Ons vergeet apartheid het stelsels in plek gehad om mense weg van mekaar te hou; om een groep wys te maak hulle is verhewe bo ander; om te reguleer waar jy mag woon, waar jy mag eet, wie jy mag liefhê en waar jy mag aanbid.

Daardie soort sosialisering gaan jy nie in twee dekades verander of deur wetgewing regruk nie. Dit is hoekom ons vandag nog swaar sluk aan “kwotas” en “regstellende aksie”.

Die felheid in die kritiek teen en die ophemeling van Ashwin Willemse wat uit die SuperSport-ateljee gestap het, is vir my te verstane. Dat sommige wit mense hom verguis en bruin en swart mense hom loof, het my nie verbaas nie.

Die #IamAshwinWillemse is vir sommige die stille erkenning dat hulle ook al in ’n Ashwin-oomblik vasgevang was waar hulle gevoel het hulle word geminag.

SuperSport het besluit al drie – Ashwin, Nick Mallett en Naas Botha – saai nie uit totdat ’n onafhanklike oorsig van die voorval afgehandel is nie. Willemse se laaste woorde toe hy van die stel afgestap het, was dat hy nie met mense kan saamwerk wat ander ondermyn nie.

(Vir eers ignoreer ons die rumour mill wat sê hy het onvoorbereid opgedaag, en die kommentaar oor sy sogenaamde gangster life en sy Engels. Daar sal altyd redes wees waarom mense die balke in hul eie oë miskyk.)

Gaan dit net oor kleur? Is dit net ’n geval van wit mense wat swart mense onwelkom laat voel, asof daar ruimte geskep moet word vir die “ander” om aan te pas? Die ander is soms Moslems, soms gay, soms ’n vrou, soms die “vyand”.

Is dit swart mense wat hul mag prysgee en slagoffer speel? Is daar ’n wedloop om te bepaal wie is die victims, die minorities, die bedreigdes?

Is dit waarom AfriForum Amerika toe hardloop om hul minderheidstatus te predik en glo hul lewe en livelihood word in Suid-Afrika bedreig?

Ek het die bevooroordeling al miljoene keer aan my lyf gevoel. Ek kom van die Cape Flats en waar het ek dié mooi Afrikaans leer praat; kan ek die job doen, want my voorgangers was almal (wit) mans en die standaard was hoog.

Hoeveel keer was ek al in geselskap waar mense OOR my praat asof ek nie ’n brein en ’n stem het nie; waar jou mening net nie soveel waarde het as ’n ander s’n nie. Ek ken die gevoel waar jou werkslewe so ondraaglik gemaak word dat jy bedank, maar dan sê hulle jy kon nie die mas opkom nie. #WeSeeYou.

SA praat te vlak oor ras. Totdat ons in mekaar se skoene staan, sal argwaan, bitterheid en trane oor en oor gestort word.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters