4 maande gelede
Ons moet jonges se koppe uitsort
 ~ 

JONG mense se geestesgesondheid was dié week op Wêreldgeestesgesondheidsdag in die kollig.

Wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, het 20% van tieners een of ander geestesgesondheidstoestand. Sommige swyg daaroor en kry nie behandeling nie en ander ly in stilte.

Een van die grootste uitdagings wat die meeste provinsies ervaar, is dwelmmisbruik, wat kan lei tot geestesversteurings, veral onder die jeug.

Baie tieners het gewoon nie die hanteringsmeganismes om hul emosies en krisisse te verwerk nie. Hulle cope nie.

Dis wanneer ’n dwelm (’n metode) ’n maklike plaasvervanger raak vir die vaardigheid om deur jou krisis te werk.

Hoeveel keer hoor ons van jong mense wat depressief is of ’n stadige dood sterf weens dwelmverslawing? Die jongste SA Nasionale Jeugrisikogedrag-opname verwys na sowat 24% van jong mense tussen gr. 8 en gr. 11 wat gevoelens van depressie, hopeloosheid en hartseer ervaar.

Ek het in gr. 10 met depressie geworstel. My ma het my na ’n dokter geneem wat pienk pilletjies voorgeskryf het om die chemiese wanbalans in my brein te herstel.

In my vroeë 20’s het ek weer met ’n berader gaan gesels toe dit lyk asof my wêreld omgedolwe word deur my ouers se egskeiding, my eerste werk en die onsekerheid daarvan om die volwasse lewe te betree.

“Adulting” is ’n skill wat selfs volwassenes by tye sukkel om te bemeester.

Ons gemeenskap praat nie openhartig genoeg oor geestesafwykings of selfs angstigheid of depressie wat adolessente beleef nie.

Wat maak jy as jou kind sê hulle voel “af” of hartseer of lus nie om skool toe te gaan nie?

“Perform jy? Sit jy al weer aan?” is die vinnige antwoord. Maar dalk lê die pyn dieper as wat ons besef.

In dieselfde studies word gesê 21% van jong mense het al minstens een keer hul lewe probeer neem.

As mense selfs net ’n suggestie opper dat hulle moeg vir die lewe is of nie meer kans sien om voort te gaan nie, moet ons dit nie ignoreer nie.

Dit bly ’n noodkreet waarop ons moet ag slaan. Veral met die naderende eindeksamen moet onsmet die gevaarligte vertroud wees.

En as jy nie weet hoe om dit te hanteer nie, is daar professionele mense en beraders wat jou kan lei. Die gemeenskapskliniek of distrikshospitaal behoort jou ’n verwysing te kan gee.

In 2017 was daar in die Wes-Kaap byna 184 jong mense wat vir behandeling in provinsiale fasiliteite opgeneem is. Die meeste was rondom 15 jaar oud. Die jongste wat vir dwelmverslawing behandel is, was 14.

As jy jonk is, is dit ’n baie confusing tyd. Die soeke na selfaanvaarding, om in te pas en om sin te maak van jou lewe is oorweldigend. Dit help as daar iemand is wat verstaan of met wie jy vertroulik kan praat. Dalk moet ons meer mense kry wat bereid is om te praat oor hoe hulle gesukkel het op die pad na volwassenheid. Dit is nie altyd smooth sailing nie.

Kyk net na die sangeres Demi Lovato wat erken het sy’t as sewejarige al selfdoodgedagtes gekoester. In Augustus het sy weer ’n relapse gehad. Sy erken sy sukkel al baie lank met dwelmverslawing.

Soms sukkel sy om sober te wees. Die “Sorry Not Sorry”-superster het nie tou opgegooi nie. Sy vat elke dag op ’n slag.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters