9 maande gelede
Nóg soos water op eend se rug
 ~ 

DIE slapelose nagte wat Kapenaars oor water het, verstaan ek alte goed.

Ek het in Oktober vir drie dae daar gewerk en my senuwees was kla’.

Kyk, ek ken van top-en-tail en flash in the pan-showers, maar toe ek die rympies agter die toiletdeure op die O.R. Tambo-lughawe lees, het my plak gesak.

“Brown must drown, yellow must mellow” … of so iets. Ek was op.

Ek kon nie eens klein slukkies van my gebottelde water in vrede drink nie.

Toe besluit ek ek gaan my geliefde Moederstad in die feestyd nie besoek nie, want die sielkundige foltering sou net te veel wees. Ook maar goed so, want Dag Zero in April kruip al hoe vinniger nader. Ek was my hande in onskuld.

Minder as 90 dae … tiek-tok-tiek-tok.

Die hotel waar ek gebly het, het geen badproppe gehad nie. Die versoeking om te bad, sou dalk te veel vir toeriste wees.

Ons is versoek om waar ons kan liewer die kleiner handdoeke te gebruik en dit in die bad te plaas vir wasgoed as dit vuil is.

My vriendin in Obs(ervatory) se lyf smag na ’n bad. Shêm.

Ek het haar genooi om by my te kom kuier sodat sy net kan voel hoe dit voel om ’n goeie soak te hê; al is dit ook net vlak water en vir drie minute van saligheid.

Haai, waar is die dae toe jou vel geriffel het van te lank in ’n bad lê?

My kollega vertel sy ma het in Desember op sy nerves gewerk. Sy het oor sy lang storte gekla en het die badkamer soos ’n aasvoël dopgehou.

Ek lees die waarskuwings aan die stad sowat 16 jaar gelede was soos water op ’n eend se rug. Niemand wou die voorbodes sluk nie.

Terloops, toe was Antie Pat nog nie die mayor nie, maar sy moet nou maar staan vir die watersondes van die laaste dekades.

Te midde van die waterkrisis is dit skokkend dat 60% van Kapenaars nie by die teikens hou nie, wat die vlak 6B-water­beperkings nou noodsaak.

Die bykomende tariefverhogings gaan sommige nog verder die droogte instuur.

Die voorgestelde droogteheffing is nou onwaarskynlik.

Wat kan jy werklik met 50 F water per dag doen? Ek woon nie meer in die Kaap nie, maar ek panic vir julle part.

Daar’s ’n grafiek wat wys hoe ver jy met 50 F water per dag kan kom.

Jy kan jou skottelgoed en wasgoed was (seker maar ’n small load met die hand), ’n minuut en ’n half stort, net een keer die toilet spoel, net 2 F gebruik om te kook en ’n ou klein bakkie vir die brak.

Nou hoe gaan julle by die werk maak? Gaan julle die flush deel en dit laat stol?

Wat gaan die gyms doen? Ná ’n stinkerige work-out gaan jy stort?

Baie karwasgeriewe moes juis sluit, want hul brood en water is toegedraai.

Ek lees daar gaan sowat 200 waterverspreidingspunte wees. Wie gaan queue en wanneer?

Ek kom werk in Maart vir ’n week in die Kaap en ek wonder of ek my eie water moet bring? Dalk ’n 5 F-kan in die hotelkamer? Ek sal my wipes inpak.

Dalk moet ons soos die Franse maar net op sekere dae was en andersins ons stink spuit met duur parfuum om die klankies te smoor.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onderwerpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters