4 maande gelede
Ma van vele hou maar uit en aan
 ~ 

MARIAM Nabatanzi is blykbaar die vrugbaarste vrou in Afrika. Sy is net 39 jaar oud, maar het 38 kinders.

Wel, daar was eintlik 44, maar 6 van hulle het reeds gesterf.

Soms spot mense dat daar iets in die water moet wees in Uganda, maar dokters meen dis genetika. Haar eierstokke skei glo meer veelvuldige eiertjies per maand af en daarom is sy vrugbaarder en geneig om meer as een geboorte te hê.

Die mense in die village noem haar Nalongo Muzaala Bana – die tweeling-ma (wat ook vierlinge baar).

Sy het ses stelle tweelinge, vier stelle drielinge, drie stelle vierlinge en dan so hier en daar ’n paar enkel geboortes.

Hoe die vrou manage, weet die hemel alleen, want die man is al lankal pad op. Oe, hy maak glo een keer ’n jaar ’n guest appearance in die middel van die nag, maar sy kids weet nie hoe hy lyk nie.

Die oudste seun, Charles (24) het die “spookpa” laas gesien toe hy 13 jaar oud was. Dit lyk baby daddy maak net deposits en dan ghost hy.

Imagine jy is 18 jaar van jou lewe swanger? Ek kan my dit nie indink nie.

Sy is op 12 getroud, wel, eintlik afgevee aan ’n man wat 28 jaar haar senior was. Die stiefma het glo die ander kinders vermoor deur hulle fyngemaakte glas in hulle kos te voer. So seg Mariam.

Sy het survive, want sy was glo afwesig tydens die opskeptyd.

In Mariam se village, Kabimbiri, is daar nie ’n Sassa wat met papgeld help nie. Sy moet maar vat wat sy kan kry om ten minste pap op die tafel te sit. Sy vleg hare, maak kruie fyn vir die siekes in die village, of help soms voornemende bruide met hulle troue.

Die meeste van die kinders bly nog by die huis. Op 13 het sy sommer in 1994 weggespring met ’n tweeling. Twee jaar later toe baar sy ’n drieling en daarna ’n vierling.

Ek dink ek faint elke keer as dit met my gebeur.

Sy het glo al ’n device laat insit, maar om met haar vrugbaarheid te peuter, is glo gevaarlik vir haar gesondheid.

Nou hoekom los sy nie die man nie, vra jy? Wel, haar antie het gesê sy moet endure in die huwelik en nie kinders by verskillende pa’s hê nie.

Nou kom ta een keer ’n jaar dronk soos ’n lord in die middel van die nag aan, slaan haar potblou en sy endure maar die skaamte en gesukkel.

Die man het glo baie kinders uit vele verhoudings en sy het op ’n kol selfs daardie buite-egtelike kinders gehelp grootmaak.

Omdat hy so ’n absent father is, moes hulle ál die kinders se name per telefoon uitklaar. Hoe gee jy ’n man nog die eer om ’n naam te gee en hy werk nie vir daai naam nie? Haibo! #NeverAsTeNooit laat ek ’n man met vrygewige saad so wegkom nie.

As sy kan, dan koop sy ’n 10 kg sak mieliemeel per dag, 4 kg suiker en drie koekies seep om te survive.

Ek weet nie of Mariam se kroos haar gaan spoil op Moedersdag volgende Sondag nie, maar die vrou verdien medals bo medals vir uithouvermoë. Maar meeste ma’s doen wat gedoen moet word, want daar is nie tyd om te kla nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokusop SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters