6 maande gelede
‘Loerbroer’ hou ons aanlyn dop
 ~ 

FACEBOOK is glo vir die ou mense. Die in ding deesdae is glo Snapchat, maar tussen Instagram en Twitter raak ’n mens glo geholpe, sê die jong mense.

Op ’n kol was daar Viper en ek het ook WeChat, maar ek praat net met my vriendin in China op WeChat.

Ek is meer deel van die Twitterati en ek begin al hoe meer praat in #hashtags.

My ander fase was Periscope. Ek laaik dit, want ek kon al saam met Kerry Washington (van Scandal) by die Oscars se after party kuier en ook Nuwejaar in Parys (die een in Frankryk) vier.

Sosiale media is harde werk. As jy nie ’n Wi-Fi zone het nie, kan dit ’n begrafnis raak as jy foto’s of video’s wil laai.

Nou die ander dag kry ek hoeka weer ’n teks van die service provider wat sê die data se pryse gaan op, want VAT is van April af op na 15%. Ons gaan suffer met die data wat net nie wil fall nie.

Ons dink ons is veilig omdat ons in ’n virtuele ruimte vry en selfies post. Maar dinge kan lelik skeefloop as jy dit verkeerd benader of nie jou veiligheid in gedagte hou nie.

Daar moes Mark Zuckerberg, die larney van Facebook, verskoning vra dat hulle toegelaat het dat daar met gebruikers se persoonlike inligting gesmous word. Dit is 50 miljoen gebruikers se voorkeure, menings en gewoontes wat so op ’n skinkbord aan derdeparty-toepassings aangebied is.

Dít is hoekom jy ál daai ads vir hair­dryers, Bali-vakansies en soms sexy quizzes kry. Dis glad nie so onskuldig nie.

Hoe meer mense oor jou weet en hoe meer jy vrywillig oor jouself post, hoe makliker teiken hulle jou. Elke keer as jy ’n foto like of kosfoto’s plaas, is dit soos ’n krummeltjie persoonlike info wat ’n cookie word. Adverteerders is bloeddorstige honde wat jou spoor volg en elke krieseltjie opvreet.

Ek kon nooit verstaan hoe mense só hul besigheid op Facebook kan post nie. Onthou jy die dae toe couples sommer onmiddellik hul status verander het as hul verhouding skeefgeloop het?

Shêm, dan vind die ou uit sy girl het hom sommer op Facebook of WhatsApp ge-dump. Dis cruel verby.

Dalk moet ons die bepalings en voorwaardes van Facebook, Apple, Google en ander ’n bietjie fyner lees. Dis glo nie ’n oortreding nie... Wanneer ons “Agree” kliek, gee ons toestemming dat die inhoud en inligting wat ons deel, aan hulle behoort. Ons kan hulle dus nie blameer vir die content wat so uitgeruil word nie.

En moenie dink jy delete ’n pic of jou sexy video en dit word net deur space ingesluk nie. Daar bly ’n digitale voetspoor.

Kyk wat het met Oscar en Reeva se privaat WhatsApp-boodskappe gebeur! En waar het dit beland? Op die voorblaaie van die wêreld se koerante.

Een luisteraar sê sy lektor het hom ’n toets geleer. As jy nie die foto of die comments vir jou ouma kan wys nie, moet jy twee keer dink of jy dit met die wêreld wil deel. Kyk net hoe vertel mense jou waar hulle eet, waar hulle “in check” en wat hul kar se registrasienommer is.

Jy moet soos ’n skelm dink en seker maak jou info bly veilig. Moenie dink dis net jy en die skermpie voor jou nie. Jy’s nooit alleen nie. Big Brother watch jou!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters