5 maande gelede
Kwesbare babas maak my droewig
 ~ 

EK WEET nie hoe tienerma’s cope om ’n kind groot te maak nie. Almal gaan so aan oor dié wat kinders baar vir ’n toelae, maar wat kan ’n mens rêrig met daai geld doen?

Flip, ek is ’n enkelma en voel soms soos ’n afkophoender om als alleen te moet doen én dan vir als te moet betaal. (Moenie worry nie, ek gaan nie vandag biets oor slegte en absent pa’s nie. Daai is vir ’n anner dag. #HollerBackGirl)

Dis die kwesbare babas wat my hart breek. Meer as 22 000 babas is óf dood by geboorte óf sterf elke jaar binne sewe dae in Suid-Afrikaanse hospitale, luidens die jongste verslag van Statistieke Suid-Afrika, wie se syfers tot by 2013 strek.

Dis meer as 60 babas per dag en verteenwoordig ’n skerp styging sedert 1997, toe dit 13 000 was.

Hoe sterf 60 babas per dag? Dis elke liewe dag in ’n Suid-Afrikaanse hospitaal.

Boonop sterf dié weerlose siele binne sewe dae nadat hulle hul eerste lig aanskou het. Dis tragies. Om nie eens te praat van babas wat ge-dump word in vullisblikke, riooldreine of sommer so in die veld nie. Die stats wys ook dat ons land dringend in vroeë kinderontwikkeling moet belê.

Die eerste 1 000 dae van ’n kind se ontwikkeling lê die grondslag vir hul groei. En dis meer as net die inspuitings teen siektes, maar ook toegang tot kos, ’n veilige omgewing en holistiese gesondheidsorg. Teen vyf jaar oud is 90% van ’n kind se brein al ontwikkel.

Hoeveel swanger ma’s kan egter privaat hospitale besoek, streekhospitale of selfs taxi-geld na die kliniek bekostig? Onthou jy hoe die winkels babamelk moet vasketting, want dit word so gesteel?

Stel jou voor die baba se pa betaal nie eens papgeld nie of gee voor hy pay so min, hy kan net ’n skamele R800 bekostig, en jy moet heeltyd doeke en melk koop. Moenie praat van die ander uitgawes nie! Hoe dek ’n toelae ál daai noodsaaklikhede?

In Suid-Afrika het ons boonop die geveg teen FAS wat met sy eie uitdagings kom. Wanvoeding vergroot ons krisis.

Byna ’n derde van die kinders in die Vrystaat en Gauteng is kleiner en onder-gewig weens chroniese wanvoeding. Baie bereik nie die “normale” mylpale vir kinders hul ouderdom nie. As jou kind met komplikasies gebore word, is die las groter en die uitgawes raak net te veel.

’n Nuwe akademiese hospitaal in die Vrystaat – die Moeder-en-kind-hospitaal van die Macah-stigting – is ’n nuwe rigting in gesondheidsorg vir ma’s en hul babas.

Hulle doen opvoedingswerk om ma’s in te lig oor hul pasgeborene se behoeftes. Dan kyk hulle na toerusting en toegang tot nasorg- en gesondheidsdienste vir spesifiek ma’s en babas om daai eerste 1 000 dae moontlik te maak.

Ons kul onsself om te dink alle vroue weet instinktief hoe om babas groot te maak. Selfs die fetus in die baarmoeder het ’n tekort aan vitamiene en minerale en moet gevoed word. As ’n ma nie na haarself omsien tydens swangerskap nie, is dit dikwels die baba wat dit ontgeld.

Ons kan beter doen.

Ons hoef nie 22 000 babas aan die dood af te staan nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters