2 maande gelede
Kids moet toekoms bou met kennis van verlede
 ~ 

EK WONDER dikwels hoe jy ’n hedendaagse kind grootmaak met ’n bewustheid van die verlede terwyl als vandag tegnologiese vooruitgang skreeu.

Ek sukkel om Maya weg te kry van Shimmer en Shine, en het met groot moeite probeer konteks gee aan oudpres. Jacob Zuma se faux pas van die verlede.

Met Cyril Ramaphosa se verkiesing kon ek haar die geskiedkundige konteks gee. Maar dit was ook net twee ritte in die kar, toe sing sy weer Peppa Pig songs.

Ek het verduidelik die mense wat betoog, skreeu nie meer #ZumaMustFall nie. Daar is nou ’n nuwe president, só lyk hy op TV en sy naam is Cyril Ramaphosa.

Ons het die hele aand “Ramaphosa” geoefen, want geskiedenis was aan’t gebeur en sy moet weet wie is haar president.

Die volgende oggend op pad skool toe luister ons weer die nuus. Sy gil opgewonde uit haar karstoel: “Mommy, Mommy! Dis hy! Sy praat van Ra-ma-phosa.”

Sy was baie impressed met haarself en kon sien ek gloei soos vuurwerke oor sy onthou het. Die oomblik was kortstondig maar dit bly my by. So ook die dag toe ek jare gelede ’n quiz met die eerstejaar-joernalistiekstudente gedoen het. Die meeste het nie geweet wie Oliver Tambo was nie.

My hart het gebreek. Hulle was meer ge-worry oor die vinnigste manier om ’n byline te kry en famous te wees.

Geskiedenis en Suid-Afrika se struggle-verlede was van min waarde vir hulle.

“Miss, we didn’t grow up in that era,” was hul verweer. Hulle kan nie identifiseer met die opofferings en lyding van hul ouers en grootouers nie. Hulle was millennials en model C-produkte. Watse struggle? Watse Soweto Uprising?

Die interministeriële taakspan se aanbeveling dié week dat geskiedenis vanaf 2023 ’n verpligte skoolvak moet word, sal seker nie eens ’n twiet op sommige se profiel of Facebook-status regverdig nie. Hoe lui die uitdrukking? Jy kan nie die toekoms ken as jy nie jou verlede ken nie (vry vertaal).

Vir my is dié nuus egter manna uit die hemel. Ek was nog altyd mal oor geskiedenis as vak en onthou hoe die ontvouing van Napoleon Bo­naparte se Franse Revolusie my nagte laat opsit het.

Ek onthou ook hoe ek die armblankekwessie vir tien punte koud geswot het.

Geskiedenis van watter invalshoek ook al gaan altyd vanuit ’n sekere perspektief eensydig wees. Die idee is om ’n gebalanseerde beskouing te gee sodat die leerder kan opweeg, vrae stel, krities met die handboek se inhoud kan omgaan en dit in ’n hedendaagse konteks kan evalueer.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, verseker ons die (her)skryf van die geskiedenis is nie ’n poging om die ANC te bevoordeel nie. Vir haar gaan dit oor nasiebou en maatskaplike samehorigheid.

Die taakspan hoop ook dit sal studente se analitiese vaardighede verskerp om oplossings vir Mzansi se probleme te vind.

Die plan is dat geskiedenis eers aan leerders in gr. 10 tot 12 onderrig word in die plek van lewensoriëntering. Wat word van daai onnies? Het ons genoeg opgeleide onnies wat kritiese leiding in ’n geskiedenisklas kan gee? Watter stemme voeg ons by; watter gebeure laat ons uit?

Ek sou wou hê Maya moet van kindsbeen leer van Krotoa en Autshumato, die Khoi en kolonialisme. Hoe gouer, hoe beter.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters