3 maande gelede
Kameras kort in klaskamers
Klaskamers dalk leeg: Een van die onderwysers het klaar haar mind opgemaak dat sy binnekort gaan loop. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIS enige ouer se nagmerrie dat jou kind onveilig by die skool is of dat ’n onnie of boelie jou kind gaan afknou.

Jy doen ál die safety checks en navrae oor die skool se geskiedenis en jy verwag die skool gaan dieselfde met aanstellings doen. Jy kan mos nie minister van veiligheid en sekuriteit oral speel nie – daar kom ’n punt waar jy moet vertrou and let go.

Al wat ek weet, is dat ek waarskynlik my kop gaan verloor as iemand my kind slaan soos die onnie by die kleuterskool wat die kinders in Carletonville so verniel het. Ek sal nie my pose kan hou nie.

Ek sal sukkel om ’n “redelike” ouer te wees. Ek het al gesien hoe bleek ek word en hoe my asem beginne jaag as ek video’s sien waar kinders mishandel word.

Gebed om kalmte werk nie, ek het al getraai. Dit is ook waarom ek net die eerste video begin kyk het, maar nie verder kon gaan nie.

As joernalis moes ek die konteks kry, maar as ma het ek begin naar word en my asemhaling was vlak. Dan raak ek gevaarlik...

Geweld, leer jy jou kind, is nooit die antwoord nie.

Ons praat oor wat ons pla en ons stoot mekaar nie rond en foeter mekaar nie. Gooi beslis nie stoele rond en slaan mekaar met stoele omdat ons nie ons way kry soos in Houtbaai Vrydagoggend nie. Ons leer ons kinders konflik kan opgelos word.

Ek aanskou hoe ’n groterige meisie by ’n partytjie my vierjarige rondstoot.

Ek meng nie in nie; watch net op ’n afstand. Maya probeer herhaaldelik die vredemaker speel, maar word telkemale by die groepie van drie uitgesluit.

Sy kan net nie verstaan waarom haar “maatjie” nie met haar wil speel nie en net met die ander twee. Sy kom vertel my hulle wil nie die speelgoed deel nie en elke keer as sy haar by hulle aansluit, loop hulle weg en gaan staan op ’n ander hoekie.

Ons praat nou hier van sesjarige meisies. Steeds luister ek net en wag om te sien of die vaardighede wat ek haar geleer het, inskop. Sy is vier, maar leer vinnig.

In die swembad splash hulle haar in die gesig en elke voorstel wat sy maak om ander speletjies te speel, val op dowe ore.

Sy noem die meisie ’n boelie. “She is not kind, Mommy,” kla my kind.

Hulle is in die fase waarin hulle jou maklik vertel jy’s nie hulle friend nie.Maar om te baklei of ander af te knou is not on. Woorde maak ook seer. Vuil kyke ook.

By die huis moet ek verduidelik ons vriende is nie altyd kind nie. Somtyds verloor ons vriende en soms moet ons ’n break van hulle vat.

Sy verstaan nie alles ten volle nie en meen haar maatjie sal oormôre minder kwaad lyk. Dit is hoe kinders probeer sin maak van hulle wêreld.

Maar hoe verduidelik jy vir die kinders in die video waarom die onnie hulle rondklap? Hoe beskerm jy jou kind as jy nie daar is om dit te sien nie?

Ons het kameras in karre en taxi’s nodig wat ons kinders vervoer, kameras in kleuterskole en in klaskamers. Ons moet kan inlog by die skool se sekuriteitstelsel met ons eie kode om te sien of ons kinders veilig is. Ons moet die hele tyd ’n ogie op ons kinders kan hou...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters