2 maande gelede
Jy kan nie talle opinies verdoof
 ~ 

DIT beginne genuine voel asof ons in ’n gangster state leef.

Nou praat ek nie eens van die actual gangsters wat ons in ons gemeenskappe terroriseer nie. Ek praat van die mafias om ons en die hordes skelms wat voel hulle is untouch­able.

Hulle het nie goue kettings om die nek en grills in die mond nie. Hulle is uitgevat in Gucci, ry in Lambo’s en heet soms ook Doktor, Advokaat en Your Worship.

Ek hoor dié week van die konstruksie-mafia. Hulle is ouens wat sommer by ’n nuwe ontwikkeling opdaag met ’n lysie.

Dan sê hulle vir die voorman watter persentasie werk na die persone op die lys gaan. Hulle maak net demands en as jy nie saamspeel nie, sal jy maar sien wat oorbly van jou “development”.

Soms moet maatskappye ekstra sekuriteit aanstel vir “protection” en om die swaar toerusting te beveilig.

Lyk my ons is so fyngevoelig en slaafse navolgers van politici dat ons blindelings op ’n plek opdaag en net wil septer swaai. Of is dit nou vuurhoutjies uitpluk.

Kyk wat het gebeur by die bekendstelling van Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State­: Unravelling Ace Maga­shule’s Web of Capture. Die boek was nog nie eens uitgepak op die rak of gelees nie toe condemn Magashule se volgelinge dit.

Dit lyk vir my die jongste neiging is om opinies en vryheid van spraak te onderdruk as ek nie met jou saamstem nie. Ek gaan brand sommer boeke, ontwrig openbare ruimtes en dreig almal totdat ek my way kry. Dis reg of weg, mos.

Het die verlede ons niks geleer van onderdrukking nie? Het nie te veel mense soos Ashley Kriel, Hector Pieterson, Chris Hani en Dulcie September met hulle lewe geboet vir ons vryheid nie?

Die menseslagting in Rwanda 25 jaar gelede is dié week herdenk. Honderde duisende mense is afgemaai omdat die “verskille” tussen die Hutu’s en Tutsi’s klaarblyklik so groot was. Die grond was deurdrenk van bloed.

Ek praat Vrydag met dr. Wilhelm Verwoerd oor hoe ons verskillende opinies in ’n demokrasie moet bestuur.

Hy werk by Maties se eenheid vir historiese trauma en transformasie, maar het al baie soortgelyke gesprekke in Israel en Ierland gefasiliteer.

’n Inbeller sê toe ons moet aanvaar ons het Godgeskape verskille en moet ophou in ontkenning leef. Dit is klaarblyklik ook die rede waarom sommige mense barbaars en onbeskaafd optree.

Wilhelm sê ná die oproep hy dog hy hoor sy oupa praat. Hy dra die geskiedenis van Hendrik Verwoerd, sy oupa, met hom saam. Verwoerd word dikwels die “argitek van apartheid” genoem.

Blade Nzimande, die algemene sekretaris van die SAKP, noem die betogers se gedrag by die boekbekendstelling “onintellektuele gedrag”.

Die polisie sien hoe hulle boeke opskeur, maar doen niks nie. Het die staat beheer verloor? Hoekom ons asem mors om links en regs gedrag te condemn, maar almal kom weg met geweld en kriminele gedrag?

Ons sukkel om te aanvaar ons Handves van Menseregte maak voorsiening vir protes en verskille, maar dit gee niemand die reg om ’n ander se opinie dood te smoor nie. Wanneer gaan ons die menslikheid in mekaar begin erken en embrace?

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters