3 maande gelede
Idai se slagoffers gryp die hart aan
 ~ 

OM TE sien hoe die gogo myle ver stap om slagoffers van die sikloon Idai te help, pluk aan jou hartsnare. Ubuntu in aksie.

Ons ken nie sulke verwoesting nie. Die menslike tragedie wat die afgelope twee weke in ons buurstate afspeel, is hartverskeurend. Meer as 1,85 miljoen mense vermis, haweloos, wees en dood agtergelaat.

Die Verenigde Nasies noem dit die ergste ramp in die Suidelike Halfrond.

Ahmed Bham van Gift of the Givers sê hy het nog nooit sulke desperaatheid, moedeloosheid en devastation gesien nie. Hy sal weet. Hy het gewerk in Haïti. Hy ken die gesig van verwoesting en verlies.

Soms is die reddingswerkers die laaste bietjie hoop tussen lewe en dood. Ahmed vertel van een noodpunt waar hulle toerusting afgelaai het. Die mense het verward gehardloop en gehoop dit is kos. Sommige was al twee weke sonder kos.

Hy vertel van ’n oupa wat sy vier kleinkinders oppas. Hy bid heeltyd dat niks met hom sal gebeur nie, want wie sal die kids versorg?

Die watervlakke het gesak en nou val die klem op humanitêre hulp. Maar Zimbabwe, Mosambiek en Malawi gaan nog lank treur.

Hoe besluit jy wie om te red en wie om agter te laat? Almal is desperaat. Party soek skuiling in bome, klou aan dakke, hou vas aan drywende stompe. Ander moes aanskou hoe kinders voor hulle oë wegspoel.

Een boer vertel hoe hy in Mosambiek uitgery het om oorlewendes te soek. Hy het net ’n see van lyke langs die pad gevind.

Alles is verspoel. In Inchope wou dr. André Hattingh mediese hulp verskaf. Hy het net drie mure gevind waar die kliniek eens was. Dié het sedertien verkrummel.

Hy sê die emosionele trauma wat voor sy oë afspeel, is onbeskryflik. Nou is daar klaar gevalle van cholera aangemeld.

Die mediese nood is onbeskryflik. Hoe rehabiliteer jy mense wat deur die natuur wees gelaat is? Hoe “herbou” jy?

Die VN en ander noodlenigingsgroepe bring mense nog na veiligheid. Sommige brûe bestaan nie meer nie en jy kan gemeenskappe net per helikopter bereik.

Doug van der Ruit woon naby Chimanimani, Zimbabwe. Hy was een van die eerstes wat daar met reddingswerk begin het.

Hy sê disasters van hierdie aard sny deur klasseverskille. Almal het ingespring om mekaar te help. Hy vertel dat hulle met moeite swanger vroue by hospitale probeer kry het en soms ook by was toe babatjies hul eerste asemteug geneem het. Duisende is ook hier ontwortel en sowat 140 is net in daardie gebied dood.

Die VN het opnuut ’n beroep om hulp vir die slagoffers gedoen. Dis waarop gogo Plaxedes Dilon (71) gereageer het.

Sy’t ’n sak vol ou klere (haar brood en botter om te verkoop) op haar kop gepak en geloop na die Highlands Presbiteriaanse Kerk in Harare, ’n afsetpunt vir donasies. Sy kon nie betaal vir ’n lift nie, want sy woon 10 km ver.

Zim se rykste man, Strive Masiyiwa, gaan nou vir die gogo ’n huis bou en maandeliks onderhou. Op Facebook skryf hy hy’t nog nooit so ’n omgee-hart gesien nie. Haar welwillendheid gryp hom aan.

Daar is seker baie ander stories van heldedade, tragedie en hoop. Binne ’n halfuur het ek net drie eerstehandse ervarings gehoor en ek was gebroke. Ons huil saam met julle. Rus in vrede.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onderwerpe­ waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters