13 dae gelede
Hier’s ons weer in swart klere aan die betoog
genoeg is genoeg
#GenoegIsGenoeg #AmInext  ~ Melinda Stuurman

‘MY STIEFPA het my probeer verkrag en my ma het hom beskerm. My ma het bloot vir my gesê ek wou hê hy moet met my slaap.”

Dit staan in ’n brief van ’n luisteraar aan my. Bogenoemde was ’n gefaalde poging, maar dié gruwels gebeur in ons huise en ons bly stil uit vrees vir die skande wat dit oor ons familie gaan bring.

Of ons word met die dood gedreig as ons sou uitpraat. Of ons gaan polisiestasie toe en die beamptes sê ons moet ons problems by die huis gaan uitsort.

Ons gaan vergewis ons van ons regte en dan faal die stelsel ons soos vir #DrNdlovu. Of ons bly stil en die verkragting en mishandeling duur voort. Dit raak deel van die siklus van stilswye en misbruik.

As jy kyk na die statistiek van femicide en die rapportering van verkragting, gebeur dit elke dag. Ons kan nie meer ons ore en oë toe hou nie.

Die president maak beloftes dat hy ’n noodtoestand gaan oorweeg. Hy het selfs op ’n road trip na die Oos-Kaap vertrek om Uyinene Mrwetyana se familie en die bokskampioen Leighandre Jegels se ma te gaan troos.

Dit is goed dat die president gesien word dat hy omgee... Maar, uhm, wat van daardie lys van 24 versoeke wat die #TotalShutdown-veldtog in Augustus 2018 oorhandig het, Mr. President? ’n Jaar gelede het ons ook so gerou in swart klere en protesoptogte gehou en gesmeek dat ons lywe nie misdaadtonele moet word nie.

Vermoor

Senzeni na? Wat het toe gebeur met die lys van demands en sperdatums? Dololo.

En hier sit ons weer. Byna 3 915 vroue- en kinderlyke later. Sowat tien vroue en kinders per dag is verlede jaar vermoor. Elke dag.

En ons praat nie eens van die sake wat nie aangemeld is nie, want verkragting word onder-gerapporteer in Mzansi. Dit kan 25 keer meer wees as wat ons bereken.

En nou? Lucinda Evans van Philisa Abafazi Bethu doen weer ’n beroep op mans om verantwoordelikheid te aanvaar vir die uitmoor van vroue. Sy vra die vroueministers om hulle eweknieë verantwoordbaar te hou omdat hulle ons vroue faal.

Selfs die aktrise Charlize Theron het die homies gevra om op te staan en uit te praat as hulle sien hulle brasse loop ’n gevaarlike pad. Onthou jy haar “Real Men Don’t Rape”-advertensie so twintig jaar gelede? Oe, toe spring die manne op en protesteer: “Wena, ons issie almal soe nie.”

Ons kan nie meer bybly met slagoffers se name nie.

Destyds het vroue gevra dat daar ’n sterk boodskap uit die kantoor van die presidensie moet kom wat die aanvalle en moorde verdoem. Toe stuur hulle ons met ’n press release huis toe.

Eergister het die president darem ’n boodskap aan die land op kamera gestuur. Die vroue-organisasies het rigting en mandaat aan sy kantoor gestuur dat daar ’n hersiening van vorige planne moet kom om vas te stel waarom dit misluk het.

Die demands was sinvol en het riglyne gebied waar om te begin: ’n Herlewing van die moniteringskomitee wat die status en lewenskwaliteit van vroue in Mzansi ondersoek, met oorsig-meganismes in plek.

Daar moet opleiding van regsbeamptes kom sodat hulle kan weet hoe om slagoffers te hanteer. Konsekwentheid is ook nodig met die minimum vonnisse vir oortreders van seksuele misdade en domestic violence.

Die opstel van ’n nasionale register van beskermings­bevele word bepleit wat outomaties opgedateer word as ’n slagoffer een kry.

Vroue vra meer huise van veiligheid en tydelike behuising vir vroue wat vlug. Want waarheen gaan jy met jou kinders as jy vrees dat jou partner jou gaan uitmoor? Moet jy wag tot die dag dat jy hoor jou man het jou kinders opgehang soos wat so pas in KZN gebeur het? #AmInext?

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters