8 maande gelede
G’n wegkomkans vir Guptas en kie
 ~ 

EK DINK die agbare lid Malusi Gigaba moet ’n break vat.

#SendMe Cyril Ramaphosa moet hom pos op indefinite leave. Daai soort briefies wat nie ’n datumstempel kry nie, maar dis duidelik, soos Taylor Swift gesing het: “We aint never ever ever getting back together”.

Hy kan nie onthou wanneer hy die Guptas formeel ontmoet het, hoeveel keer hy die Saxonwold shebeen en compound besoek het nie, hoeveel keer hy min of meer in Doebai gekuier het vir werk of persoonlike reise nie. Sy kop is te vol...

Dis die een of ander onverklaarbare geheueverlies. Ál wat ons hoor is: “I am not aware.” Het oudmin. Lynne Brown nie ook soortgelyke simptome in haar getuienis oor Eskom openbaar nie?

Dis nie net sommige ministers se con­venient geheueverlies wat my laat worry nie. Nou raak hulle net so onverklaarbaar siek en hul dokters issue net siekbriefies.

Dudu Myeni was nou die dag, toe sy ook moes getuig, so ongesteld, sy kon vir geen dag net ’n paar uur voor die kommissie sit nie.

Mosebenzi Zwane het ook oornag siek geraak. Ons moet dié sick notes ondersoek. Ons beveg listeriose op alle fronte. Dalk is daar ’n virus wat net ministers gekoppel aan staatskaping tref. Dalk is dit liegsteriose?

Lees tussen die lyne hoe adj.pres. David “DD” Mabuza sinspeel dat Juju beter af is in die ANC as wat hy die leier van ’n opposisieparty is. Ons weet mos Juju ken hul files, het hul nommers – en die blok raak benoud voor volgende jaar se algemene verkiesing.

Hoe anders ná die EFF se gepeper tydens die sittings oor staatskaping oor Malooty GiGupta se geboorteplek? Maar dis uncle Gwede se twiet wat veelseggend is. Hy wil nie hê die ANC moet mense vra om terug te kom na die kudde nie, want as jy dit doen, gee jy hulle ’n kans om nee te sê, al wil hulle ook hoe graag. Is dit nou shade na die EFF, dr. Makhozi Khoza of ander, Uncle?

Iemand moet Juju Malema, commander-in-chief van die EFF, waarsku: #Issatrap. Die ANC besef die EFF is ’n faktor wat meer steun kan wegrokkel.

Hulle is sommer deesdae brasse oor grondonteiening sonder vergoeding en die Marikana-kommissie van ondersoek wat nou kom (ja, nog een in ’n ander gedaante).

Hulle los maar die DA, want hy is besig om op eie houtjie te self-destruct.

Van waar ál die kommissies? Dis soos voorbereiding vir die matriekeksamen. Ons werk deur ou vraestelle en doen hersiening totdat ons blou is, maar dis alles oëverblindery. Dit moet mos vir die powers that be lyk asof ons iets doen.

Dis om ons te sus sodat die kwessies nie in die verkiesingsveldtogte opgehaal word nie. Wat het julle gedoen oor Shaun Abrahams, staatskaping, Life Esidimeni en Marikana? Dit klink soos ’n klagstaat!

Maar die ANC sal nie die Gupta-geen afskud nie. Indië sê die Guptas is nie sy burgers nie, hulle is Suid-Afrikaners en hul besighede is hul privaat belang. Die een broer het dan selfs ses paspoorte! Was dit tydens Malusi Gigaba se skof as minister van buitelandse sake?

Doebai is dalk die land van melk en heuning vir die Guptas, want daar is g’n uitleweringsverdrag nie. Maar ons gaan hulle nie laat wegkom nie. Ses paspoorte of te not – Pappa wag vir jou!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters