5 maande gelede
G’n genade vir diegene wat wil drink en bestuur
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

MEER as 24 000 mense is nou onlangs gedurende die feestyd in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van drank bestuur het.

Kom Krismis 2020 en jy sit met jou booty in die tjoekie as jy alkohol in jou lyf het.

Nie ’n ligte cidertjie, ’n lang bier, of hoesmedisyne met ’n hoë alkoholinhoud moet in jou bloed te bespeur wees nie.

Dololo! Zero persent vrug van die wingerd in jou binneste.

Nie eens jou Nagmaalwyn nie.

Jou mond kan maar ruik soos fresh apple en mint, maar dit gaan jou nie red nie.

Volgens Fikile Mbalula, minister van vervoer, is hy nou óp van al die suiplappe wat ons so in hulle karre op die paaie uitmoor.

Ons is reeds bekend as een van die gevaarlikste lande in die wêreld as gevolg van die hoë vlakke van dronk­bestuur.

En met Fiekie moet jy nie mors nie.

Hy praat alte maklik van “moer hulle” as hy die vyand wil intimideer, so ek sal nie kanse vat nie.

Hy’t gewaarsku dat hulle vanaf Junie vanjaar zero tolerance gaan hê met motoriste wat hulle 0 %-alkohol-beperking oorskry.

Puntestelsel

Dit moet nul wees. Nie ’n bietjie dop in die lyf nie. Dit moet zero wees.

Geen alkohol in die bloed nie. Jy gaan die wetgewing en gereg aan jou lyf voel.

Junie tree die nuwe Aarto-wetgewing in werking en ons verkeersoortredings gaan volgens ’n puntestelsel aangepas word.

Dis alles goed en wel, maar ons kan dan nog nie eens die ouens met die fake lisensies opspoor nie.

Hoeveel tjorre ry op die pad en jy bid net jy is nie in ’n ongeluk met daai kar nie, want hy het waarskynlik nie versekering nie, wat nog te sê van ’n padwaardigheidstoets geslaag ...

Watter punte gaan hulle van daardie bestuurder aftrek? As jy glo meer as 50 punte teen jou naam het, kry jy ’n warningletter.

En wat van die mense wat dan konstant vals adresse gee of hulle eks-girlfriend se khaya as residence gee?

As jy meer as 100 demerits binne twee jaar kry, kan hulle jou lisensie vir drie maande suspend.

Whoa! Wat gaan hulle suspend as daar so baie bestuurders is wat nie lisensies het nie?

Hoe word hulle dan op ’n nasionale register “geswartlys”?

Hoeveel keer gooi die driver die bier na jou kant toe sodat dit lyk asof die passasier drink en nie hy nie?

In ander lande waar dieselfde wetgewing geld, word die passasiers ook getoets.

’n Pel van my in Engeland is tronk toe gestuur vir ’n aand en sy lisensie was sommer vir ’n aantal maande opgeskort.

Toe moes hy maar rondbel en ’n lift soek of die bus of moltrein vat. Dit het gebeur nog voor die dae van Uber.

Dit is hoog tyd dat ons dronk motoriste op ons paaie vasvat, maar gaan die toepassing van die wet konsekwent wees?

Hoe effektief gaan die verkeersbeamptes die letter of the law toepas sonder om te loaf vir ’n bribe of ’n bottel Fanta?

Lam eerder by jou jaart en vermy die paaie as jy jou dop wil geniet.

Jy wil nie deel wees van die stats nie. Daai stats lyk nie goed nie: ’n Gemiddeld van 14 000 mense per jaar wat sterf en die ekonomie verloor ’n geraamde R147 miljard per jaar.

Ha-ah, hou verby!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters