2 maande gelede
G’n einde in sig
Foto:  ~ 

VROEG in Junie is 14 lewens binne 24 uur tot niet. Daar is reeds 1 600 siele op die dodelys, sê die lykhuis. En dis nou eers halfjaar...

Dit is die dodelikste ses maande in die geskiedenis van bendegeweld in die Wes-Kaap. Dis op dié makabere wyse dat Jeugmaand eindig – en ons is niks wyser as voorheen nie.

Die kinders word van ’n kant af afgemaai terwyl wetstoepassers nie ’n clue het watter strategie gaan werk om misdaad te bekamp nie.

Hulle probeer misdaadintelligensie nou verskerp. Dit beteken die publiek moet meer inligting verskaf oor wie waar met wat smokkel, wie guns dra en drugs verkoop of wie vir wie vermoor het.

Die polisie probeer ook walgooi teen ’n vloedgolf onwettige vuurwapens en die opsporing van dié wapens opskerp.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het klaar met die minister van polisie, Bheki Cele, gethetha oor wat hulle kan doen. Hulle erken darem dis ’n krisis...

Die geweld het ná die verkiesing toegeneem. Selfs in die townships raak dit killing fields soos daar geroof en gemoor word.

Aangeval

Die gemeenskapspolisiëringsforums vra dat die polisie in die provinsie onder administrasie geplaas moet word.

Maar in polisiegeledere is beamptes blykbaar ook nie safe nie. Die lede “speel” mekaar en dié vyandigheid lei tot groot spanning in eenhede.

Dié week is ’n 34-jarige polisieman vermoor toe hy verdagtes wou aankeer. Ses lede van die nuwe anti-gang unit is ’n ruk terug in die informele nedersetting Samora Machel aangeval.

Was dit toeval? Of dalk ’n taktiek om die regering se aandag te trek? Voorvalle van bendegeweld het in die laaste paar maande meer as verdubbel. Wat is die redes vir dié spike?

Tussen November laas jaar en Mei vanjaar is meer as 2 300 moorde aangemeld. Die meeste daarvan is bendeverwant.

Die Stad Kaapstad se mayco-lid vir veiligheid en sekerheid, JP Smith, sê die Stad het R500 miljoen begroot vir die stryd teen misdaad.

En daar wás glo aanvanklik vroeg verlede jaar ’n afname in misdaad. Maar teen November was dit graf toe.

Moet bendelede se selfone geblok en hulle gesprekke en boodskappe onderskep word?

Daar is reeds besluit om die taktiese reaksie-eenheid met 47 lede aan te vul. Die polisie wil meer sigbaar wees.

Fritz het die begroting verhoog sodat die cops langer skofte kan werk om ’n groter impak te maak.

Die owerhede bespreek strategieë en oorweeg planne. Soos wat? Meer CCTV-monitering?

Maar waar skuil ’n mens wanneer die koeëls vlieg? Die klinieke kan nie die gewondes behandel nie. Dis ’n risiko om skool of kerk toe te gaan.

Hoe bou jy ’n gemeenskap as jy nie sy lede kan beveilig nie? As jy self onveilig voel?

Ek weet van ’n gemeenskapswerker wat pal van een huis van veiligheid na ’n ander moet beweeg. Haar lewe is in gevaar. Haar familie is in gevaar. En dít alles omdat sy teen ’n bendelid moet getuig.

En die geweld het ook nie tye nie. Enige misdaad word enige tyd gepleeg. Dit maak nie saak waar jy woon nie, want die geweld oor.

Wat gaan werk, is enige een se guess. Jy kan die beste wil ter wêreld hê, maar as jy nie jou kameraad in die loopgraaf kan vertrou of verskuilde agendas kan ontbloot nie, moet operasies onder die dekmantel gebeur.

Nie ’n minister se trooswoorde of ’n president se Thuma Mina-planne sal jou gerusstel as misdadigers nie gevang en gestraf word nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters