3 maande gelede
Gemors waarin opvoeding is, is oor vrot basics
Foto:  ~ 

ONS kan nie almal ’n Einstein wees nie. Ons moet dit nou maar eens en vir altyd aanvaar.

Sommige is net nie so brainy gewire nie. Soms is ons ’n SpongeBob of ’n MacGyver.

Dan is daar diegene wat die tergende en ontwykende vrae van die heelal binne minute in hulle brein kan beredeneer, oplos en aanstap.

Dan vat hulle hulle medaljes, onderskeidings en selfies – en dis dit.

Vir ander is daar ’n gr. 9- basiese onderrig-sertifikaat wat jou die opsie gee om ’n ander roete van opvoeding te volg.

Moenie judgerag wiesie, mense.

Ons het ’n drop-out-syfer van 50%. Die werklikheid is dat baie leerders net nie opgewasse daarvoor is om matriek te slaag nie.

Hulle sleep jaar ná jaar skuimbek deur die grade, en dan moet hulle oorgeplaas word.

Sommige sukkel om selfs die 30%-kerf te bereik. Minstens is daar ’n opsie vir diegene wat goed met hulle hande is en ’n tegniese loopbaan wil volg.

Sommige beroepskeuses vereis nie ’n ekstra jaar van matriek nie. So, hoekom moet jy die jaar mors as jy al ’n jaar in jou verkose beroep kon geswot het?

Dié exit in gr. 9 beteken ook nie jy hoef nie meer matriek te hê nie, sê die regering.

Dit maak studies by byvoorbeeld TVET-kolleges net makliker en stel leerders in staat om tegniese kwalifikasies te kry.

Ek deel sommige vakbonde se kommer oor hoe werkbaar die opsies op die tafel is. Het ons genoeg navorsing gedoen en is die stroom wat so ’n tegniese leerder volg, al gekarteer?

Hulpbronne

Waar gaan hy of sy werk en watter maatskappye ondersteun dié inisiatief om aan hulle indiensopleiding te bied? Het ons genoeg werkbare instellings wat die inisiatief van die onderwysdepartement kan ondersteun?

Ons sien hoe beroerd dit by die bestaande TVET-kolleges is en hoor daar word gekla oor geld en hulpbronne.

Maar waar gaan hulle hulp vandaan kom as daar nie eens genoeg ondersteuning van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) is nie?

Dié driestroom-model maak voorsiening vir tegniese opleiding, die akademiese pad en beroepsopleiding.

As ’n leerder die tegniese roete volg, voorsien die departement ’n teiken van sowat 10 000 artisans per jaar. Daar is ook vakke soos tegniese wetenskap en tegniese wiskunde.

As ek my somme reg doen, moet ’n mens darem ’n begrip hê van basiese wiskunde, want jy moet tog mates (soos die lengte van ’n plank) kan uitwerk.

Kykie, ek het nie wiskunde geslaag nie, maar dit vat nie ’n wiskundige om sommetjies te maak dat ’n mens ingeboude kennis moet hê waarop jy kan voortbou nie.

Toe ek op skool was, het ek altyd ’n saak gemaak vir die vakke waaroor ek passievol was. Tale en geskiedenis, ja. Ekonomie en rekeningkunde, not so much.

Ons weet ons kinders sukkel om te lees en skryf, wat nog te sê van tel. Selfs op universiteit kan die studente vrae nie sinvol beantwoord nie.

Sommige sukkel om sinne te formuleer en om krities te dink. As ons leerders in tegniese rigtings wil stuur, moet hulle minstens sterk leesvaardighede hê.

Net omdat jy goed met jou hande is, beteken dit nie jy hoef nie instruksies op ’n boks te kan lees en verstaan nie.

Sal dié opsie ons werkloosheidsyfer en sukkelende ekonomie red? As jy die ouer van ’n kind is wat sukkel om te leer en jy wil hom of haar by ’n tegniese skool inskryf, dan wil jy minstens dít weet: Sal my kind uiteindelik darem ’n werk kry?

Ons kan nie bekostig om met ons kinders se toekoms te dobbel nie: Daar is te veel lewens op die spel.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters