13 dae gelede
Geld kom oues toe, so verskuif afsnydatum net
morsig! Staatsamptenare se gatte kan klap oor die geld wat hulle so rondgooi. Foto verskaf  ~ 

EK SIEN op Facebook ’n vriend skryf sy skip kan gerus nou inkom, want Julie is ’n dekselse lang maand.

Dit voel amper soos die vibes van Krismis en Nuwejaar in een maand gerol.

Selfs sommige staatsamptenare kamp uit by die OTM en wag vir midnight om te slaan sodat die funds uitgeklaar kan word. (Ons sien julle wat die geld onttrek voordat die debietorders afgaan.)

Feit is: Mense kry swaar en die ekonomiese krisis vat aan ons almal.

As jy so luister na die bedrae geld wat genoem word by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, dan wonder jy op watter planeet jy woon...

Die geld vermors by die Vrede-plaas, die VBS-bank se uitbetalings en lenings, die makeshift Bosasa-bank, wat sommer vanuit hulle kantoorkluis as omkoopgeld bedryf is, die geld wat die ANC se kandidate tydens die verkiesing spandeer het!

Hemel! Ons kon huise gebou het, kinders gevoed het, skuld afbetaal het. Kaantie konkel ons om dwarspaaie reguit te maak. Line net hulle eie pockets!

Middelvinger

Daar sê die minister van finansies, Tito Mboweni, die staatsinstellings gaan weer gehelp word sodat hulle op koers kan kom.

Reserwefondse gaan gebruik word om die SAUK, Denel en die SAL by te staan.

Eskom gaan bykans R60 miljard kry! Hau! Dieselfde Eskom wat time and time again geld kry en ’n middelvinger vir accountability wys.

Die SAUK vra vir ’n staatswaarborg van R3,2 miljard, maar Mboweni sê dit gaan slegs gebeur as die nasionale uitsaaier aan sekere vereistes voldoen.

Ek raak duiselig as ek dink hoeveel geld aan hierdie instellings gaan. En dan krepeer die pensioentrekkers van ons land van ellende.

As jy ’n ouer of familielid het, of jy self het op ’n kol vir die staat as onderwyser, skoonmaker of verpleegster gewerk, dan was die laaste paar maande se praatjies oor die redress amper soos manna uit die hemel.

Dit is waaroor almal praat, want daar was die afgelope jaar uitbetalings wat wissel van R35 000 tot R100 000 (selfs soveel as R500 000).

Die catch is dat net sommige gewese staatsamptenare gekry het terwyl ander gekwyl het.

Die staatsdiens se bedingingsraad het saam met vakbonde Resolusie 7 van 1998 onderteken. En diegene wat deur hierdie ooreenkoms “bevoordeel” is, moes glo op 2 September 1998 in diens van die staat gewees het om in aanmerking te kom vir die sogenaamde “redress”.

Dis nou dié teen wie daar gediskrimineer is op grond van ras, geslag, huwelik­status, mediese toestand of gestremdheid.

Frikkie de Bruin, algemene sekretaris van die staatsdiens se bedingingsraad, sê dié week op my show dat die kriteria vir aansoekers duidelik was en mense wat nou wil aansoek doen, maak hulle laat, want daai proses het al in 2012 gesluit.

Maar die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) laat hulle nie vertel nie. Hulle het dit duidelik gemaak dat ander staatsdepartemente en die Bargaining Council nie vir hulle moet besluit wat hulle mandaat is nie. Die government se pensioenfonds is op die sweet en trane van daai pensioenarisse van die sixties, seventies en eighties gebou, en nou trek hulle nie voordeel nie.

Ons show is oorval deur mense wat die CSPRM se David Jantjies wil kontak.

Dit is duidelik mense wil ’n regstelling sien. Die kriteria en argumente vir die uitbetalings maak nie altyd sin nie en dalk is hierdie gronde vir ’n klas-aksie waaroor ’n hof moet beslis.

As die cut-off-datums van die Land Claims Court destyds hersien kon word, waarom ook nie dié afsny­datums vir regstelling nie? Méér mense het mos gely…

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters