5 maande gelede
Geel ligte gooi al flikker in China
 ~ 

AS JY single is, kan jy jou luck in China gaan try. Daar is geen waarborge nie, maar jy het ’n groter kans om ’n baby daddy daar te kry as by die huis.

Ek verstaan nou nie al China se policies nie, maar desperate tye, nè?

Dit was dié week Internasionale Vrouedag. Die klem val gewoonlik op die status van vroue in die samelewing, maar in China was dit die susters se huwelikstatus wat die hoofopskrif in die staatskoerant was. Jong Chinese vroue word vertel hulle moet vergeet van ’n Prince Charming en die idee van ’n sielsgenoot is argaïes.

Hulle moet maar settle vir ’n min of meer oukeierige man. Dít is blykbaar die reality check in die staatskoerant. Hoekom dan dáár, asof dit in nasionale belang is? Jou biesagheid is mos jou biesagheid.

Of nie ... Die pleidooi van die regering is ’n poging om hul geboortesyfer op te stoot. As jy getroud is, sal jy werk om kinders te kry, redeneer hulle. Die land sit met ’n krisis, want dis pensioners oral.

Die pleidooi kom boonop met ’n prekie oor hoe die huwelik ’n proses is waar julle mekaar moet verdra en dat dit onmoontlik is om altyd jou way te kry. Uh, sê die wat al daar was.

Vroue word aangeraai om hul attitude te verander en op te hou dagdroom. (Nêrens word mans vertel húlle moet beter kandidate raak nie; dis die vroue wat glo te picky is.)

China het baie lank ’n een-kind-beleid gehad. As jy meer as een het, is jy gepenaliseer. Dié praktyk is in 2015 gestop, want hul geslagsverhouding was skeef.

Hulle het ’n klomp laaities en nie genoeg vroue om met hulle te trou nie en nou sit hulle met ’n wanbalans.

(Kan iemand vir Made-in-China laat weet ’n huwelik beteken nie net ’n man trou met ’n vrou nie?)

In 2016 het huwelike met byna 7% verminder en die geboortes in 2017 met 630 000. Benewens die worries oor te min vroue om te trou, gaan daar te min mense wees om die ekonomie aan die gang te hou. Wie gaan die werk doen wanneer almal grysbaarde is?

Hulle het reeds hul berekeninge gemaak. Amper 30 miljoen bachelors oor die volgende drie dekades. Ek hoor sommer Beyoncé sing: “All the single ladies, put your hands up.”

Pleks van beleid vroeg genoeg regstel en hul besluite blameer, maak hulle weer die vroue die sondebokke. As jy in jou laat 20’s is, noem hulle jou “leftovers”.

Dis die leftovers wat tevrede moet wees met die doggy bag van beskikbare mans. Die susters moet maar die oukeierige ou vat, solank sy net ’n man vat en kinders baar. Daai broeimasjien-mentality is so nineteen voertsek. Sorry, dan bly ek single en hou my eie bewerige hand vas.

Die regering speel selfs matchmaker. Hul Jeugliga reël outings waar jy moont­like maats kan ontmoet en in sekere provinsies kry jy ’n trousubsidie – ’n tipe discount om jou aan te moedig om ’n man te vat.

Hulle sê nie of jy die man kan lay-bye nie (pun intended) of kan terugstuur as hy malfunction nie. Hy kom nie eens met ’n Buyer Beware-waarskuwing nie. Dis vat en sit ... en kind kry.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters