3 maande gelede
Doen jou deel vir duisende meisies
 ~ 

EK WOU nog altyd die berg Kilimandjaro uitklim. Nie vir foto’s vir Instagram nie, maar om dit af te tick op my bucket list.

Ek het nog nie daarby uitgekom nie, maar ek herleef die oomblikke deur die stories van pyn, struggle en trots van my kollega Gillian Pillay by SABC Nuus.

Dit is vanjaar haar derde ekspedisie om Afrika se hoogste bergpiek, Uhuru, uit te klim. Haar kameraman, Thabo Madi­lola, gaan vir ’n tweede keer saam.

Hulle wil ’n double summit doen. So, as hulle die berg bereik, wil hulle afkom en probeer om vir ’n tweede keer op te gaan. Hulle is lede van die Trek4Mandela-span. UTata Madiba sou vanjaar 100 jaar oud gewees het.

Om die berg uit te klim, is nie vir sissies nie. Dit is gevaarlik. Die berg is 5 895 m hoog. Die racing driver Gugu Zulu het sy lewe in 2016 op daai berg verloor.

Die span gee daagliks so tussen 20 000 en 25 000 treë.

Jy dink die koue weens die sneeubedekte berge dié week was erg. Daar slaap hulle met die koue as hul sneeukombers.

Gillian wys my ’n masker wat hulle help om beter asem te haal, want die lug raak dunner hoe hoër jy klim. Dit is ysig koud op daardie tog. As jou neus loop of jy drink water, word die water oombliklik ysdruppeltjies.

Die fokus is egter nie op hul gerief en bragging rights nie. Gillian, Thabo en die crew wil die aandag plaas op die miljoene meisies wat skooldae mis omdat hulle nie toegang tot sanitêre doekies het nie.

Wanneer ’n meisie ’n vrou word en haar eerste maandstonde ervaar, behoort dit ’n viering van haar vrouwees te wees.

Dis egter vir baie ’n verleentheid en in sommige gevalle vernederend. Sy het nie doekies nie en haar ouers kan dit ook nie bekostig nie, so sy bly maar tuis.

Dit raak so erg dat haar menswaardigheid daaronder ly, veral by die skool. Ek onthou hoe skaam ons op skool was toe dit die eerste keer gebeur het.

Jy weet nie wat om te glo nie. Die een sê jy moenie kaalvoet loop of jou hare was nie, want dit maak dit net erger. Die ander sê dit is ou gelofies en ’n mite.

Dis nog erger as jy uit onkunde opereer of jou ouers swyg oor wat met jou liggaam gebeur en gee nie konteks nie. Meisies vertel my die seuns van vandag is niks wyser nie en spot hulle steeds.

Meisies wat nie toegang tot doekies het nie, bly tot 50 dae per jaar uit die skool – net omdat hulle hul maandstonde kry. Dit hoef nie so te wees nie.

As ons kan help, moet ons. Daar is verskeie veldtogte in die land by apteke en die SAUK om doekies te versamel of fondse om doekies te koop.

Hoe kan jy help om die stigma te verbreek, maar ook om te wys dis normaal en is niks om oor skaam te wees nie?

Hoe voed ons seuns op om te verstaan en meer te ondersteun? Hul vroue en dogters gaan dit ook ervaar en hoe gaan hulle dit benader? Bydra tot die skaamte?

Ek is trots op my kollegas wat help om ’n verskil te maak in duisende meisies se lewe. Ek en jy kan die narratief herskryf deur ons deel te doen.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters