3 maande gelede
Dinge staan stil tot Mei verby is
 ~ 

ONS het dit gemaak. Januarie 2019 kom nie terug nie.

Oe, en net om die mes van geldelike verleentheid dieper in te druk, is daar ’n tegniese glitch by Nedbank, wat die salarisse van SABC-personeel na ander banke moet versprei.

Payday is toe met ’n paar ekstra uur vertraag. #StruggleIsReal. (Ek is ’n vryskut en word op die laaste dag van die maand in arrears betaal.)

My kollegas se nerves was op, want daar’s dan hamba pieng-pieng notifica­tions nie.

Een van hulle het ná twaalf nog wakker gelê, online gegaan, maar daar was dololo salaris. Sy’t haar man gevra om aan te meld en te kyk, maar sy was die eerste keer reg. Nada. Is sy undercover retrench?

Ons weet al sedert vroeg Desember die SABC beplan afleggings. Ons weet ook hy het aan die parlement gesê hy’t net geld tot einde Maart.

Elke departement, van nuus tot sport, TV, radio, administrasie en menslike hulpbronne word geraak.

Gemeet aan die getalle sou die nuuspersoneel (daar is nuusboelies in ál die amptelike tale) byna gehalveer word. Sommige vervaardigers en produksie-huise kan glo nie betaal word nie en die openbare uitsaaier sukkel glo om kredietwaarborge te kry om lenings aan te gaan.

Jy kan jou indink hoe die alarm bells afgegaan het. Daar is glo mense wie se debietorders op betaaldag afgaan. Ander se huishulpe moes betaal word. Wat sê jy as jou pay nie daar is nie en Januarie voel klaar soos ’n-jaar-binne-’n-maand?

Die sielkundige foltering is erg. ’n Kollega in een van die streke stuur ’n foto van sy petroltenk. Daar gaan niks aan nie.

Dis soos daai Salticrax-advertensie waar jy alte lekker chow met gourmet toppings op jou cracker aan die begin van die maand, maar kom month-end dan lek jy maar die biscuit.

Navorsing van een van ons top-banke het laas jaar gewys 56% van salaristrekkers se pay is binne die eerste vyf dae ná betaling net ’n memory. Waarvan leef hulle andersins? Seker maar kredietkaarte, koop kos op skuld, leen en bid maar vir die volgende payday.

My ma kry ook nou ’n Sassa-toelaag. My oorlede pa het haar aangemoedig om aansoek te doen. Ons verstaan nog nie so mooi die betaaldae nie, maar sy bel my antie in Tafelsig en dié vertel van die lang rye en Sassa-kaarte wat verval het.

Terloops, daar was ’n slenter op sosiale media dat jy kaarte aanlyn kon koop. As jy ’n toelaag kry en Facebook het, like gerus Sassa se blad sodat jy weet wat aangaan.

Die SABC sê hy gaan nie nou personeel aflê nie. Sommige vakbondlede glo dis ’n geval van wag tot ná die verkiesing.

Ek weet sommige het ’n terrible Krismis agter die rug, want hulle weet nie of hul naam op ’n lys werkloses is nie.

Een kollega het haar oorsese vakansie met vrees aangepak, want wat as sy haar werk kwyt is nadat sy terugkom?

Daar word wel ’n bietjie asemgeskep, maar vir hoe lank as daar nie geld is nie? En hoe verander dit die getalle wat hulle meen is oortollig?

Klink of daar by vele maatskappye min besluite geneem word en die standaard antwoord is “ons kyk ná Mei”.

Dis anyway wat ons president doen...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters