27 dae gelede
Die skoonmakery is my manier om in beheer te bly
Foto:  ~ 

WAAR begin ’n mens?

Begin jy by die feit dat mense wat jy moontlik ken, aan Covid-19 sterf?

Of begin jy by die talle verpleegsters wat óf siek is, dood is, óf geïnfekteer is met die virus en vrees om te gaan werk, soos in die Oos-Kaap?

Dalk bespiegel jy ook tydens die nuusbulletins en Facebook posts oor die hoë besmettingsyfers en sterftes in die Wes-Kaap.

Hierdie onsigbare siekte loop tot binne-in jou huis, skool, werk, slaapkamer ...

Kyk die tientalle skole regoor die land wat reeds gesluit het, so vinnig soos wat hulle oopgemaak het.

Die winter is met ons.

Al het die president ons gewaarsku dat ons blootstelling vir infeksies gaan eskaleer sodra ons afbeweeg na vlak 3, het ons dalk nie die omvang besef nie.

Die infeksies klim vinnig.

So met die koue en reënweer die afgelope week in die Wes-Kaap en Gauteng wonder ek hoe dié onsigbare vyand ál dieper onder ons velle en DNS inkruip.

Ek sien hoe uitbundig poseer mense in die sneeu daar in Ceres én Sutherland, en ek worry meer oor die inwoners (juis in Ceres) wat nou met Covid-19 battle.

Herstel

Ek dink aan ’n oom wat nou al twee weke aan ’n ventilator gekoppel lê.

’n Mens begin op ’n kol te bang raak om te vra hoe dit gaan. Die dood kruip dan al hoe nader aan die huis.

My skoonsuster is die hoof van ’n skool en ek worry oor haar. Een van my oud-onderwysers (hy is nou ’n skoolhoof) praat die afgelope week in koerante oor sy herstel ná sy infeksie.

Hierdie is real – dit is nie bangmaakstories of net ’n erger graad van griep nie.

Wat is dan nog normaal en bekend?

Ek sien flashes van obsessiewe skoonmaak en sanitasie hier by my kop uitsteek.

Terwyl mense geskarrel het om drank te koop, het ek belê in skoonmaakmiddels en sanitisers.

Ek het twee kaste vol van sproeie, wipes, sanitisers met 80% alkohol, surface cleaners én alkohol-rubs as jy nie by seep uitkom nie.

My vriendin sê ek kan ’n spaza oopmaak. My man spot dat ek bedwelm word deur die alkohol in die produkte.

Ek maak heeltyd skoon. Ek gaan selfs vroeër werk toe om my kantoorruimte se oppervlakke te was – die rekenaar, die muis en key­board (alle devices) word skoongemaak, al het ek net gister daar gewerk.

My hande het uitgedroog van al die skoonmakery en ek het begin handskoene aankoop en gebruik.

Ek het voorraad by die werk, by die huis, in my kar en het selfs nou ’n groter handsak sodat ek van die goed kan saamdra.

Soms is te veel inligting nie altyd so ’n goeie ding nie, maar ek is ’n voorstander van kennis is mag en het rituele in plek vir sanitasie sodra ek van die werk af kom.

Ek is oorbewus van die feit dat my ma in die kwesbare groep val. (Sy is 80 en was verlede jaar vir ’n maand in die hospitaal vir onder meer ’n longinfeksie.)

Fokus

Die knaende skoonmakery is my manier om my kop skoon te kry en in beheer van die lewe te voel.

Daar is so min waaroor ons sekerheid het, maar as ek kan doen wat ek kan om my familie veilig te hou, dan bring dit my gerusstelling.

Ek probeer fokus op wat ek kan beheer. Ek gaan winkel toe om die nodige te kry, doen tuisonderrig met my dogter, kook, lees, werk, bly by die huis, ongeag die vlak – ek leef ASOF ek mense kan aansteek.

My “nuwe normaal” is een dag op ’n slag...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters