6 maande gelede
Dié ‘profits’ is regte gebedsaak
 ~ 

EK KON nog altyd met ’n hart vol oortuiging vir mense sê hul geloofsoortuigings is hul saak.

Dis nie my biesagheid nie en ek hou my neus diep in my eie geskrifte. Gaan na die mier en word wys, Linny.

Met wie jy slaap, vir wie jy stem, wie jy aanbid, is privaat. Maar ek verwag dieselfde non-judgemental houding van ander jeens my oortuigings.

As ek afvallig is, is dit niemand se worries nie. Moenie vir my kom sê jy gaan my voor die Djirre bring net omdat jy die argument verloor het nie.

Of as jy nie jou way kry nie, raak dit ’n saak van gebed. Of as jy aangejaag het, is dit die duiwel se skuld nie! Wat het van free will geword? Of het die duiwel nou ook die vermoë om jou te breinspoel?

Luisteraars skel gedurig mekaar oor die wyse waarop sommige kerke aanbid.

Dit lyk vir my daar is sole rights tot die hemel. Daar is insiders wat weet hoe regte, egte gelowiges moet wees.

Ons het mos gesien hoe sommige pastore die Woord tot eie voordeel aanwend. Kyk vir “pastoor” Timothy Omotoso en “profeet” Shepherd Bashiri en sy vrou, Mary. Almal wat beweer hulle is diensknegte en herders, maar hulle het dié week in die hof gestaan op kriminele klagte wat wissel van verkragting tot geldwassery.

Hulle beweer hulle is onskuldig en hul volgelinge glo hulle. Uitgevat in die finest threads wat geld kan koop, ry soos prins Harry in luukse karre rond terwyl die gemeente in armoede krepeer.

Shepherd Bushiri se noemnaam is selfs Major 1 of Papa. ’n Vaderfiguur vir baie.

Hy’s die stigtersleier van die Enlightened­ Christian-kerk en dié week is hy en sy vrou, Mary, op borgtog van R100 000 vrygelaat. Hulle word aangekla van bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad­.

Hulle het na bewering die buitelandse valutaregulasies oortree. Daar word R15 miljoen genoem.

Bushiri het vir sy sesjarige dogter ’n Maserati vir haar verjaardag gekoop. Hoeveel gemeentelede se bloed en sweet was nie in hul tiende opgesluit nie, maar die pastor koop vir sy toddler ’n kar?

Is dit prophets of profits? Dit is hartverskeurend hoe mense deur hul geloofsleiers mislei word.

Ek praat nie eens van diegene wat petrol drink, slange chow, hulle panties­ as offerhande in die lug waai of hulle laat beDoom nie. Ek praat van die goedgelowiges wat meen God praat direk met hul pastoor en nie met hulle nie; wat aan hul voete en lippe hang net om te weet hulle is orraait en sal die koninkryk erf.

Die laaste week beleef ek dit eerstehands. ’n Vrou wat al tien jaar vir ’n vriendin as huishulp werk, drie ander piece jobs ook het, gee een uur kennis en sê sy kom nie meer werk nie.

Die kerk het besluit sy moet vir die kerk kom werk – sonder betaling. Sy het gewoonlik op Woensdae vir die kerk gewerk, maar nou is sy “geroep”.

Sy sê sy’t nie verwag die kerk sal haar nou roep nie, maar dalk sal sy later weer begin werk.

Ek weerhou my daarvan om te vra wie sal jou weer vertrou om vir hulle te werk terwyl hulle jou tien jaar lank werk verskaf het en jy stap net aan?

Dis ’n Babelse verwarring daar buite...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters