5 maande gelede
Die ontwerper slaan my asem heeltemal weg
Foto:  ~ 

EK SLUIT my jaar op ’n hoë noot af, Eskom se beurtkrag ten spyt.

Al wat my gedagtes die laaste twee maande oorheers, is my troue volgende jaar en dat ek saam met die hulp van die universe met twee mense werk wat ek al meer as ’n dekade binne my kop en op my droombord dra.

Dis net happiness in my wêreld, want my ontwerper said yes to the dress en die MC gaan my gaste die beste ontvlugting gee.

Praat van goosies regoor my hele lyf!

Dit is baie maklik om meegesleur te word in hierdie vermaaklikheidsbedryf.

Jy moet stamina en ’n werksetiek het wat skrik vir niks.

Jy kan nie net met ’n mooi lyf en Colgate smile wegkom nie. Longevity is die woord.

Dikwels verwag jou gehoor jy moet hulle entertain en hulle dink hulle ken jou ins and outs net omdat hulle jou op die kassie en op die groot skerm sien.

’n Mens baklei hard om ’n stukkie privaatheid vir jouself te hou sodat jy darem kan voel jy het ook ’n lewe “weg” van die werk. En dan hang jy maar met jou tribe uit, want hulle verstaan die uitdagings van ’n lewe in die openbare oog.

Skinner

Dit is verfrissend as hulle is soos jy gedink het hulle sou wees.

Maar laat ek eers skinner. Ek hou Diaan Daniels, die couture-modeontwerper, se werk nou al vir jare dop.

Praat van bridal attire en sy naam en blonde kuif oorweldig jou sinne.

Ek het hom altyd op Top Billing en Wedding Bashers gesien en geweet ons het gemeenskaplike vrinne.

En toe ek hom die dag by een van my pelle se verjaardagpaartie ontmoet, toe is ek maar my skaam self en wys net tanne.

Ek het hom in die sosiale media begin volg toe ek sy skeppings by die Cannes-filmfees en die Emmy Awards gesien het.

Hy weet dololo van hoe ek hom al vir jare fan nie.

Toe slaan hy uit op My Droom Trourok op Via en ek wil amper faint.

Toe het ek nog nie eens trouplanne gehad nie, maar jy kry mos daai vibe wat jou oortuig jy en ’n persoon gaan gel.

Nou soe. Elana Afrika-Bredenkamp, Loyiso Bala, Emo Adams, Kurt Darren en Shaleen Surtie- Richards kan mos nie almal verkeerd wees nie.

Hy ontwerp vir alle geure en kleure en nou ook vir yours truly­.

Oe, toe ek vir my eerste konsultasie gaan, toe gesels ek ’n hond uit ’n bos uit.

Ons gesels oor my persoonlike styl en ek bieg dat ek selde rokke dra, maar ek kom uit ’n generasie kleremakers van Distrik Ses, so ek weet van stik, lining en structure en ek is baie sentimental.

Ja, ek bla-bla-bla onophoudelik.

En ek bly aan sy ripped jeans en been slat om ’n punt te maak.

Dit is nie van nerves nie (ek raak selde so), maar van gemak en tuis voel.

Maar toe slaan hy my wind (of issit woorde) uit my seile met sy idee vir my rok!

Ek het op sy skoot neergeval en begin snik.

Dit was genuine trane, want die man het my hart (deur al my gushing) in ’n paar sinne vasgevang.

My rok gaan ’n erfstuk wees en is die perfekte slothoofstuk van my liefdesverhaal van 30 jaar.

Ek hoop Diaan kry sy eie TV show sodat hy my rok vir jou kan wys... Of ek wys dit sommer self – in 2020!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters