2 maande gelede
Die arme pous kon dié keer toe nie sy pose hou
Pope Francis apologised Wednesday for losing patience and smacking the hand of a woman who grabbed him.  ~ YouTube/Guardian News

DIT het gelyk soos ’n uittreksel uit die Bybelse verhaal van die melaatse vrou wat net aan Jesus se rokspant wou vat om genesing te vind.

As sy net aan hom kon raak, sou haar ongeneeslike siekte soos ’n vae herinnering wees.

Flits vorentoe na die vooraand van 2020 en ’n vroulike toeris – seker ’n Katolieke volgeling – wag saam met duisende ander op die pous se verbygaan.

Sy sien hom so uit die hoek van haar skrefiesoog. Eers het sy na hom geskreeu, toe probeer uitreik ... en toe gryp sy eindelik sy hand stewig vas toe hy verbykom.

En sy gryp en trek asof hy ’n magiese staf is wat net hare alleen is.

Maar my! Die nerve! Oujaar se sondes wat handuit ruk, som ek die voorval vinnig en judgmental op.

Toe slaan die pous van die leërskare terug en gee haar twee vinnige rapse op die oortredende hand. ’n Ligte fisieke tugtiging, sou ek sê.

Die “heilige” wip hom, trek sy kleed ’n bietjie reg en stap dikbek weg.

Ek gee ’n sug van verligting. Die man is ook maar net ’n wese van vlees en bloed wat hom ook kan opruk as hy tyd het.

Soen

Die pous hou sy pose te midde van grypende hande en ’n skare vol afwagting.

Gewoonlik kry die gelukkiges mos ’n kans om sy ring te soen as hulle His Holiness se teenwoordigheid betree.

Dit is wat ek destyds in die TV-reeks The Thorn Birds gesien het.

Dit het gehandel oor die verbode liefde tussen ’n priester en sy minnares, so, my aanname is dalk net fictional.

Dalk word sy ring deesdae minder gesoen weens al die vervolgings en skandes van kindermolestering en verkragting wat priesters binne die Rooms-Katolieke Kerk die laaste drie dekades agtervolg.

Pous Franciskus het die voorval tot sy voordeel omgeswaai. In mediakringe noem ons dit “spin”, maar in die geloof lees ons dit as ’n gelykenis.

“Ons verloor menigmaal geduld. Ek ook. En ek is jammer vir die slegte voorbeeld wat ek gestel het,” sê die pous in sy Nuwejaarsboodskap en eerste mass van die jaar.

Hy wei uit oor die gees van verdraagsaamheid, geduld en vergifnis wat ons moet openbaar en hoe vroue, wat die bron van lewe is, gedurig geslaan en mishandel word.

Toe trek hy dit sommer deur na die “rebirth” van die mensdom wat by ’n vrou begin het en neem dit na die “altare van advertensies, winste en pornografie” wat vroue uitbuit.

Alles waar, natuurlik, en beslis in lyn met die zeitgeist van 2020.

Die pous weet dit ook: #TheFutureIsFemale.

Onthou, hy is nie meer ’n spring chicken nie.

Hy is al 83 jaar oud en daar word verwag dat hy die toonbeeld van geduld, barmhartigheid, en kumbaya moet wees.

Die man moes al heeldag snotneusies se koppies vryf en blessings uitspreek en nou kom ruk ’n vrou ook nog aan hom.

Gatvol

Ons gogo’s wil daai tyd van die dag ’n uiltjie knip, nie walkabouts doen nie. Smaail en wave, smaail en wave die hele Oujaarsdag deur.

Die pous het vir ons gewys hy is nie bestand teen mood swings en gatvol wees nie.

Hy raak ook soos enige van ons moeg en dik vir die wêreld.

Desnieteenstaande het hy sy eie oomblik van swakheid benut om ’n groter les aan die mensdom te leer.

Volgende keer vat ek ’n pous(e) voor ek my uhm, geduld (lees moer), strip.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters