2 maande gelede
Daar is hoop vir ons diverse land
 ~ 

EK DINK daar is tye dat ek nogal baie helder oomblikke het. Sommige sal dit ook as “heldersiendheid” beskryf.

Ons almal het mos ons moments. Maar met hierdie versoeningsprojek van Mzansi weet ek nie meer so mooi nie.

Ek het nie issues met ras nie. Ek is jou poster child vir multi-culturalism. Die VN kan my gerus ’n pos aanbied.

Ek kan net nie meer aan oplossings dink om die projek vir al ons mense te maak werk nie. Ons het ’n paar steekse, small-minded mense in ons midde.

Dié wat my ken, verstaan ek is nie die soort mens wat oudisies doen vir ander se approval nie. Ek aanvaar mense soos hulle is, solank hulle nie die menswaardigheid en menslikheid van ander ondermyn en vertrap nie. Ha-ah, dan kan ons nie saam lambada nie.

Ek kan dit nie vat dat daar nog mense is wat wil hê elkeen moet in hulle eie hoekies bly nie. Separate development, soos in die ou dae.

Bou hoër mure nes Donald Trump daar in Amerika wil doen. Hou dié wat anders lyk, anders glo, anders bid, uit.

Laat ons liefs kumba­ya-oomblikke deel met dié wat soos ons lyk. As ’n ding of mens kwansuis anders is, is dit glo ’n bedreiging.

Ek wonder al van Sondagskooldae oor die verwysing dat ons na die beeld van God geskape is en hoe convenient om te dink die Opperwese het blonde lokke met blou oë en dra Moses-sandals.

En waar kom ons donker broers en ons Aunty Jackie’s krulle dan vandaan? Na wie se beeld is hulle geskape?

En die Tien Gebooie van jou naaste liefhê soos jouself? Wie’s dan jou naaste?

So, wanneer politici ons verskille uitbuit en ons verder polariseer soos Black First Land First se Andile Mngxitama se haatdraende uitsprake, kook my bloed.

Maar dit kook ook oor as ons uitgekryt word as ape of “clever Blacks”.

Die reënboog-metafoor van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu is ’n mooi beeld wat ons met hoop laat. Die kleure in die boog verdof nie die ander nie. Dis juis die verskillende kleure wat dit so spectacular maak.

Ons moet doelbewus uitreik na mekaar. Ek is gelukkig dat ek ’n diverse vriendekring van alle oortuigings, kleure, seksualiteit en oorlamsheid het. Almal stem nie met my saam nie en sommige aanbid nie soos ek nie. En dis fine. Almal verryk en verdiep my lewe.

In my kind se klas is daar ’n Rastafarian, ’n Hindoe, ’n Moslem, ’n vegetariër. Met Erfenisdag het ons ’n punt daarvan gemaak om te praat oor diversiteit, maar ook hoe mooi en ryk ons land is juis omdat ons al hierdie kulturele praktyke het.

Ons het van die hoogste vlakke van sosiaal ekonomiese ongelykheid in die wêreld en ons kan ons nie daarteen blind staar nie. Ek kan nie praat van versoen as jy in ellende en armoede krepeer nie.

Om jou naaste lief te hê soos jouself, beteken jy en ek is onlosmaaklik deel van mekaar se lot.

Ek like een van my vriende se uitdrukking “ons is heeltyd op pad” na versoening.

Dis ’n deurlopende proses van skaaf, leer, uithou, vergewe en bou. Ek het hoop vir ons land, ons mense, al sien ek ons struikel. Ons moet net ophou om die geykte stereotipes en prejudices van mekaar te glo. Dis ’n goeie begin ...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters