9 maande gelede
Cyril-inni-Mirrel, wees os Valentine
Deputy President Cyril Ramaphosa arrives in Davos, Switzerland to lead a high-level government, business and labour delegation to the World Economic Forum's annual meeting scheduled from January 23-26. (Photo: GCIS)  ~ 

DIE adjunkpresident is mos nou die Cupid van die party – amper president van die land as jy my vra.

Hulle het anderdag nog kliphard geskinner en hom geklad dat hy ’n meideboef is, sy vrou verneuk en selfs sy lyf blesser hou, maar nou is hy die beste ding sedert Des van Rooyen se kort­stondige gelukkie as minister van finansies.

Daar het darem erge dinge op Zuma se watch gebeur. N-kaaandla is gebou, hy het ’n stortkop gehad, was permanent aan’t reshuffle sodra hy sy orders van die Saxonwold shebeen gekry het, hy het sy office in oneer gebring en hy het saam met sy Zumaïste ’n nuwe woord na ons leksikon gebring – staatskaping.

Ons kon nie bybly met die skandes nie. En dan het Msholozi nog die nerve om die ANC se nasionale werkkomitee te vra wat hy dan die cawntry aangedoen het? Well, I never, sou my oemie Fatima sê.

Die gemors by staats­instellings, Nkandla en sy firepool, die wapenskandaal, Khwezi, die onophoudelike krediet­afgraderings die laaste ruk, die vele mosies van wantroue in die parlement, GuptaLeaks, die konstitusionele hof se bevindinge, die Russian Affair en beloftes van kernkragstasies, die kinners – Edward en Duduzane – wat net soos oudpres. Robert Mugabe se laaities net skep en skep?

Haibo, Prez, dis mos nie Days of Our Lives waar Marlena of Hope weer (vir die soveelste keer) geheueverlies het nie?

Jô, mense, maar Ubaba klou! Hy wil net nie gaan nie (who knows, dalk gaan hy vandag of môre. Dan is dit sy Valentine’s gift aan die land). Nou moet Cyril-inni-Mirrel ’n dignified (Z)exit probeer skep sodat die president nie verneder voel nie...

Ons weet hy gaan waai. Hy weet sy comrades wil hê hy moet waai, maar van wanneer gaan die laaities sonder sy struggle credentials vir hom kom vertel die toppie moet ’n lange gooi. Ha-ah, hy gaan op sy eie terms.

Sorry, maar sommige oues van dae maak asof hulle nie hoor’ie – hulle ignore jou net.

En daar sit Cyril. Damned if you do and damned if you don’t. Hy kan nie oor koeitjies en kalfies of ’n buffalo van R18 miljoen praat nie – hy moet Zexit deliver.

Hy wil nie hê sy constituency moet dink hy het Number One uitgeskuif nie, want hy slaan mos sedert Desember 2017 net die Unity-trom van die môre tot die aand.

Hy het selfs sy planne vir die naweek se Mandela-vieringe in die Kaap afgeskaf.

Maar die massas raak kriewelrig. Die opposisiepartye gaan die strate invaar as Zuma nie gou waai nie.

Tiek-tok-tiek-tok ... Watter beloftes maak Cyril om die exit deal te sweeten?

Hy sê dit is challenging times vir ons land en ons verdien closure. Maar wie se belange plaas hy eerste?

Red hy SA ten koste van die ANC of verseker hy die ANC se eenheid, never mind die stemme wat hy volgende jaar by die stembus kan verloor?

Cyril kán negotiate. Codesa is ’n bewys daarvan. Maar hierdie is nie Codesa nie; Zuma is nie ’n pushover nie. Twee strategists ommie tafel, wie maak die regte skuiwe en vir wie? Wie het die sterkste hand?

Tiek-tok-tiek-tok ...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters