9 maande gelede
CR, dis tyd dat korruptes boet
Adj.pres. Cyril Ramaphosa in Davos, Switzerland. Foto: GCIS  ~ 

WIE’T gesê Cyril staan te veel innie middel? Nie die een wat nou maar ’n maand lank die nuwe ANC-president is nie.

Dié ene is soos ’n nuwe stofsuier wat elke korrupte op plase, in munisipaliteitskantore en by kragverbindings wil opsuig en uitspoeg (hopelik reguit tronk toe).

Ek luister na een van sy klankgrepe op ons nuusbulletin op die vooraand van sy vertrek na Davos in Switserland vir die Wêreld- Ekonomiese Forum.

Hy klink beslis en sê die pennie het ge-drop dat die regering vinnig moet speel en Eskom moet beginne skoonmaak.

Hy het besef hulle kan nie beleggers inkatrol met mooi beloftes en dan die vuil wasgoed (soos korrupsie by Eskom) in die spaar­kamer wegsteek nie.

Die afgelope week is ons weer geslaan met die gewetenloosheid van staatsamptenare en skaamteloosheid van korrupsie en hoe daar met belasting­betalers en armes se geld en menslikheid omgegaan is. En niemand wil die blaam vat nie. Hulle sing almal soos Shaggy: “It wasn’t me.”

Anoj Singh en Matshela Koko daar by Eskom maak asof hulle Nagmaal bedien. Hulle weet van g’n sout en water van die korrupsie by Eskom nie en nog minder weet hulle wie vir die trippies na Dubai betaal het.

By die Life Esidimeni-kommissie se ondersoek na die dood van 164 psigiatriese pasiënte, kla Qedani Mahlangu oor die beweerde drones wat oor haar dak vlieg en haar familie wat glo onnodig suffer weens intimidasie deur die polisie.

En die familie van die slagoffers wat verlede jaar op haar moes wag vir antwoorde terwyl sy cosy in Londen sit en hulle hier die lyke van hul familie moes loop soek? Praat van playing the victim ...

En Bathabile Dlamini wat vra vir ’n tolk, vir wie die staat moet betaal, maar dan korrigeer sy die tolk heeltyd tydens haar getuienis?

Wat maak jy van die mosie van wantroue in Patricia de Lille, die burgemeester van die Stad Kaapstad, en die politiekery oor wie dan kwansuis vir die waterkrisis in die Wes-Kaap verantwoordelik is?

Waar gaan ons die waarheid kry? Wat het die verskillende kommissies van ondersoek oor die jare opgelewer? Is ons wyser oor die aard van die wapenskandaal of het iemand aan die pen gery vir die Marikana-slagting? Wat gaan die kommissie oor staatskaping ons leer?

Dis goed en wel die Valke staan uiteindelik op vanuit daardie Rip van Winkle-gemakstoel waar hulle heeltyd gelam het, en begin ’n paar plekke raid. Maar gaan hulle nou enigsins waardevolle dokumente kry by Ace Magashule se Vrystaatse kantore of op die rekenaars van die Vrede-suiwelplaas? Selfs ’n cheater wipe sy nyatsi se WhatsApp-boodskappe...

Die Valke se woordvoerder sê vol selfvertroue hulle gaan verklarings maak wat die fondamente van die land gaan skud. Hemel, wat moet ons nog “hoor” wat ons nie al gehoor het nie?

Wat ons wil sien, is mense wat verantwoordelik gehou word; mense wat boet vir die verkragting van ons land, die verwoesting van ons ekonomie en die skending van ons vertroue en menslikheid!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters