9 maande gelede
Cops se kop nie reg aangeskroef
 ~ 

WIE was dan nou werklik geskok oor Allister “Toetie” Coetzee wat ge-fire is of dat daar geletterheids­probleme binne die polisie is?

Ten minste weet ons Toetie kan skryf en ’n game-plan lees, maar sekere polisie­lede se skryf- en begripsvermoëns was nog altyd verdag.

Die portefeuljekomitee oor polisiesake was duidelik geskok oor dié onthulling. Die voorsitter, Francois Beukman, kon sy ongeloof nie verberg nie. Dis dan 2018, hoe nou?

Die groot vraag is: Hoe het hulle die job gekry? Jy moet ten minste matriek hê om in die polisiediens te kom.

Jy vra mense om hul eie verklarings neer te skryf, dis hoe. Dink ’n bietjie terug: As jy ’n saak by ’n polisiekantoor wou maak, moes jy jou eie verklaring neerskryf en nogal jou eie pen ook gebruik? Of as jy ’n beëdigde verklaring afgelê het, was dit die juiste weergawe van wat jy gesê het? Of was dit die version van die polisieman? Die onvermoë om inligting te kan begryp, moes al klaar die gevaarligte laat flikker het.

Nou wil die polisie ’n oudit laat doen om vas te stel hoeveel van hul werkers kan nie lees of skryf nie.

Hoe het hulle daar ingekom? Wel, die ouens maak mos vir mekaar ’n way. Dit moes bedrog wees, want die meeste hardebaarde van vóór 1994 het al afgetree. Het topbestuur dit nog altyd geweet en toegesmeer?

Dit is dieselfde polisie wat spog oor die “stelsels” in plek vir doeltreffende polisiëring. Soos by die meeste maatskappye is daar programme vir opleiding waar jy jou vaardighede kan opskerp. Lyk my om jou wapen op te pas, is maar van die min challenges, want die polisiekan­tore word ook beroof.

Dianne Kohler-Barnard van die DA kon nie herstel van haar skok nie. Die SAPD het meer as 1 000 veroordeelde misdadigers in diens geneem.

Daar is nog nie ’n omkeerstrategie nie. Hoe kan daar wees as jy nog nie eens die omvang van die probleem begryp nie? (Daai kwessie van begrip kom weer op, eish). Daarmee saam moet daai planne meetbaar wees.

As ek ’n trainer by ABET-klasse was, het ek sommer nou al my werwing by die polisiekantoor in my dorp begin. #EachOneTeachOne.

Dr. Johan Burger, onafhanklike kenner oor polisiesake, noem dit “funksionele ongeletterdheid”. Van die rekrute het dalk matriek. Hulle kan dus lees en skryf, maar of hulle in staat is om polisiefunksies te verrig, is ’n ander docket.

Ek het nog nie ’n twiet hieroor van die minister van polisie, Fikile Mbalula, gesien nie. Kyk, hy twiet mos oor alles.

Hy het wel twee stasiebevelvoerders verwyder in Krugersdorp, naby Johannesburg, want van hul lede was glo op die payroll van kriminele en in cahoots met die verkoop van dwelms in die area.

Dit is nie maklik om die blou uniform te dra nie. As jy nie gespot word oor jou vetrolle en voorliefde vir Kentucky nie, word jou kollegas sommer in jou teenwoordigheid deur ’n ander tak geboei, net daar in die aanklagkantoor.

As jy ongeletterd is, hoop jy net vir een ding: Moenie vir my vra om die verklaring te skryf nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onderwerpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters