3 maande gelede
Barack en Cyril bring weer hoop
President Cyril Ramaphosa and Former US President
President Cyril Ramaphosa and Former US President Barack Obama.  ~ 

IN MZANSI was daar dié week baie selfies met wyle Madiba in die sosiale media en ellelange posts oor ontmoetings met en indrukke van Nelson Mandela toe hy gereis, geëet en gejive het. Jy onthou mos die Madiba shuffle? Einste! En baie foto’s van hom in sy bekende hemde.

Barack Obama het ook probeer shuffle. Ek dink nie hy het die tegniek nie, maar hy’t darem die aansien en statuur van ons Tata. Jonger, aantreklik en belese. Net soos ons dit laik. Michelle, seg Barack, het meer groove as hy.

Die land was in rep en roer oor oudpres. Obama se toespraak op Mandeladag. Kyk, was onse nuwe president opgemaak om so met Obama te korswel op die verhoog. Hy’t permanent gesmaail. Ek was happy vir hom. Hy’s darem nie soos uBaba geboe by Obama se vorige besoek nie.

Dit was ook ’n eerste vir Cyril Ramaphosa dat Obama vooraf ’n een-tot-een-gesprek met die president gehad het. Ontleders sê dit lyk goed op papier vir die president en sy 2019-verkiesingsveldtog. Hy is hoeka die een wat 2018 as eeufeesjaar vir Madiba se nalatenskap aangekondig het.

Elke ou en nuwe politician was daar. Ons praat nie van has-beens of hoe elkeen se doktorstitel benadruk is in die bekendstelling nie.

Obama se credentials is lank. En wat is ’n “previous activist” in die SA konteks vandag? (#JustSaying)

Ek het Tokyo Sexwale gesien, oudpres. Kgalema Motlanthe, Tata se vrou, Graça Machel in haar powerful blue outfit, oudpres. Thabo Mbeki, die ryk man Patrice Motsepe, Kofi Anan, eens van die Verenigde Nasies, en Virgin se Richard Branson.

Ek dink sommige mense was meer oor die Instagram-foto’s as om na die wyshede en insigte van Obama te luister.

Laat ek bieg: Ek is gaande oor Obama en in vervoering oor sy vaardigheid as spreker. Hy’t swag. Ek loop pal en kwyl oor ’n foto met sy honey, Michele O’bama, waar jy sien die liefdesgesange en liefdesbeker loop oor – selfs twee groot kinders later.

Ek kon verstaan waarom ons president smitten was met Obama se magic. Dit was ’n seldsame geleentheid om hom op so ’n spesiale dag by die Wieg van die Mensdom te hê.

Sy sjarme het my herinner aan Madiba se vermoë om die media en mense aan sy lippe te laat hang. Dan deel hulle natuurlik ook die hemelbesemlengte!

Danksy die Nelson Mandela-stigting kon ons deel in die viering van sy geboortedag. Hy sou op 18 Julie 100 jaar oud geword het.

Dit was vir my so mooi toe Madiba se weduwee, Graça, vir die gehoor sê sy dink hy glimlag uit die hemel dat sy “pres. Ramaphosa” na die verhoog kan roep. En toe kom oudpres. Mbeki en sê sy “leader” het klaar gepraat; dit is nie reg dat hy nog iets sê ná hom nie.

Dit was ’n vote of confidence en geloof in CR. Dat die staatsmanne op die verhoog glo in ons toekoms onder die vaandel van Ramaphosa. Dit was ’n trotse oomblik om ook te hoor hoe Obama verwys na CR se vermoë om te inspireer (nes Madiba).

Maar ons moet onthou Obama se opvolger, Donald Trump, saai in sy ampstermyn soveel verdeeldheid dat Obama seker ook dankbaar is om weer moed te skep in die kaliber van ons huidige president.

Daar is nie tyd vir mope nie, want ons moet vorentoe move...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onderwerpe­ waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters