11 maande gelede
Woorde is my wonderwêreld

DIE laaste paar weke leef ek binne-in my droom!

Byna soos wat Bartho Smit se klassieke werk, Bacchus in die Boland, ’n voorbeeld is van ’n drama binne-in ’n drama, so leef ek as ’n digter binne-in ’n gedig!

’n Paar weke gelede het ek, Edward Jenneke en Jeff Lakey by die gewilde Poësiefees in McGregor opgetree. Jenneke is ’n matrikulant aan Langeberg Senior Sekondêr en Jeff ’n oud-onderwysman en selfgemaakte geskied­kundige. Albei woon in Robertson, ’n buurdorp van McGregor.

Die tema van vanjaar se poësiefees was “the sound of water”. Ons program se titel was “Oumense Moettie Mettie Wate’ Mossie!” Dis ontleen aan ’n Koos Kombuis-liedjie. Ons aanbieding het gedigte ingesluit oor die gebrek aan water en die koms van die reëns.

By die amptelike verwelkomingsfunksie het ek en my geselskap skouers geskuur met grotes soos onder andere Hugh Hodge, Joan Hambidge, Ian McCallum en Diana Ferrus.

Oor ’n glas rooi- of witwyn is kopstukke gesels. Dit laat my toe dink aan WEG Louw se woorde in “Naggesprek”: “Ons het met uitgelatenheid gewerk (gekuier!) en heelwat wyn gedrink, want sonder wyn, sover ek weet, het nooit ’n vers ontstaan nie!”

Al die optredes – ook ons twee – is besonder goed bygewoon. So asof daar in dié wye en droewe land van ons ’n hongerte na die digkuns is.

Wat meer wil ’n mens hê? Ek was die hele naweek in goeie geselskap. Ek het die heerlikste wyne geniet wat die McGregor-streek kon bied, en ’n paar gladdejantjies ook! Ons was bevoorreg om optredes van die bestes op die fees by te woon. Wat ’n heerlike ervaring om ’n hele naweek lank nét poësie in te drink en ’n slag diep uit die maag te lag!

Twee weke ná my McGregor-ekskursie bied ek in Vredendal die werksessie “Prettige Poësie met ’n Palet” vir die Wesland Kunstevereniging aan. Ons kombineer kunswerke met die digkuns. Ná sowat ander­half­uur begin dig die deelnemers – meestal skilders en grafiese kunstenaars. Van die mooiste gedigte het – tesame met die nodige kunswerk – die lig gesien. Wéér was ek in my element!

Dit was amper wat PJ Philander en Amos Langdown met die kunsdigbundel Die Bruin Kokon (1965) gedoen het. Langdown het toe gesê: “Ek verf nie met olies nie, maar ek doop as’t ware my kwaste in my siel.”

Op 25 Oktober is ek die gasspreker by die bekendstelling van Frans Wiesie, Allen Baadjies en Nataly Pietersen se FAN-bloemlesing in Rawsonville.

Vir sommige is ’n senter wat deur ’n gaping sny poetry in motion.

Vir my is dit ’n gedig wat goed geskryf en gevoelvol is en met passie voorgedra word.

Op die oomblik leef ek my droom... leef ek in my droom!

  • ’n Langer weergawe van dié rubriek het op 17 September op netwerk24.com verskyn.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters