Verlede jaar
Vergeet die fieterjasies
 ~ 

VROUEMAAND is verby; ’n maand waarin ons vrouwees vier.

Dis ’n tyd waarin ons vroue ophemel en hulle op ’n voetstuk plaas. Eintlik hoort hulle die meeste van die tyd daar.

Maar is dit alles die moeite werd? Hoeveel verander werklik oor die jare?

Ek is weer genader om by Vrouefunksies as spreker op te tree. Weens ander pligte moes ek sommige van die hand wys.

Dit het my laat wonder: Word so min vroue as mentors of leiers beskou? In my oë beklee elke vrou dié posisie.

Ek wil graag sien dat alle vroue genader word as spreker by sulke events. Dat elkeen die geleentheid kry om haar storie en wyshede te deel.

Ons moet leer om nie ’n onderskeid te tref nie. Dis juis vroue wie se stem nooit gehoor word nie wat die meeste ly. Dis húlle wat in stilte swaar dra aan mishandeling en verwerping.

Om my as spreker te vra, voel soos ’n klap in hulle gesig. Kom ons laat vroue vir hulleself praat. Gee almal ’n regverdige kans om op hulle voetstuk te staan.

Woorde bring heling. Die wete dat ander jou hoor en begryp en met soortgelyke verhale steun, maak laste ligter.

Ek kyk so deur die foto’s van Vrouedagvieringe wat op Facebook geplaas is. Al weet ek dis als vir ’n goeie doel, vlam verset in my op.

Dis net hooggeplaaste vroue. Waar is die vroue wat elke dag sukkel om lyf en siel bymekaar te hou? Waar is die vroue van ons arm buurte?

O ja, ek vergeet. Hulle kan nie sulke grand klere, geblowde hare, make-up en haai polfaais bekostig nie. Never mind, hulle kan nie eens ’n daaglikse brood bekostig nie!

Los die aandagtrekkery. As ons rêrig omgee vir vroue, moet ons eers leer om ’n eenheid te vorm en nie met ons spogetes verdeeldheid skep nie.

Hou dit eenvoudig. Vroue is die hoekstene van ons gemeenskap. Kom ons wys op die regte maniere waardering.

So word ek na ’n vroue-en-sake-ete in ons dorp genooi – saam met dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van finansies. Weer maak ek reg vir ’n stywe, fancy affêre. Dis mos die minister!

Groot was my verbasing. Ek soek die gebruiklike eetgerei (daai gevreesde mes en vurk!) en borde. Niks. Daar is net ’n sopbeker en lepel op die eenvoudig gedekte tafel.

Vroue gesels oor en weer in gesellige groepies. Ek herken met ’n glimlag die vroue uit my woonbuurt. Jou sop en brood eet jy sommer gesels-gesels.

’n Vrou vertel hoe haar stryd teen die vetrolletjies tot ’n besigheid gegroei het. Dis ’n inspirasie en iets waarmee elke vrou haar kan vereenselwig.

Ek dra ’n gedig oor vroue voor. Een vrou bid en ’n ander gryp haar kitaar en sing ons tot trane! Geen verhoë of luidsprekers nie. Jy doen jou ding net daar waar jy staan.

Dr. Ivan gesels oor alles van politiek tot vroue se rol in besigheid en doelwitte vir die toekoms. Ons stap daar uit – versadig, geïnspireer en vervul.

Dis nou wat ek noem ’n suksesvolle Vrouefunksie sonder fieterjasies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters