2 maande gelede
Vasbyt en vra het my gedra

DIE afgelope jaar, vanaf Januarie tot nou, kan ek met absolute dankbaarheid terugkyk en opreg uitroep: “Ebenhaëser!”

Dié woord is van Hebreeuse afkoms. Dit beteken: “Tot nou toe het die Here ons gehelp.”

Ek is ’n Christen. Vir my is dit belangrik om aan die Here eer te gee vir wat Hy vir my doen en beteken.

Kykie, hoorie, dit het sommer rof gegaan. Ek het mos verlede Desember my permanente werk bedank en my eie besigheid begin.

Dophou

Ek het natuurlik verskillende idees gehad en navorsing gedoen. Aanvanklik het dit goed gegaan, want ek het mense gehad wat my ondersteun het, wat ook al ek verkoop het.

As ek nou dink aan wat ek alles verkoop en bemark het, moes die mense wat my WhatsApp-statusse en Facebook-blad dophou, seker by tye gewonder het: “Ai, wat vang sy nou weer aan?”

Sommige het weer nie geskroom om te vra wat ek doen of waarmee ek dan besig is nie.

Ek moet erken: Om ’n entrepreneur te wees sit definitief nie in enige een se broek nie. Daarom salueer ek elkeen wat ’n sukses gemaak het van hulle idees of droom om ’n besigheid te begin.

Dit kos beslis “volhou, uithou, aanhou en kophou”, soos ’n digter eenmaal iewers in sy verse aangehaal het.

Ek het nie net suksesstories op die internet gelees nie, ek het met besigheidspersone in verskeie gemeenskappe gesels.

Een van die vele lesse wat ek geleer het, is om bereid te wees om van ander te leer.

Elkeen van ons het ons eie idees van wat ons wil doen, maar as jy ’n entrepreneur wil wees, moet jy wyer en kreatief kan dink.

Ek is gelukkig om in my binnekring mense te hê soos my pa, Pieter, en broer, Peter.

Hulle het ondervinding daarvan om ’n besigheid te begin en hoe om ’n sukses daarvan te maak.

Ek luister dus geduldig wanneer hulle en ander raad gee.

Ek het intussen geleer dat jy ook bereid moet wees om ’n nuwe vaardigheid aan te leer as jou eie idees nie uitwerk nie.

My vriend Tommy sê altyd dat jy nooit verkeerd sal gaan as jy iets met jou hande kan doen nie.

Dit was dus vir my ’n lekker uitdaging toe ek en ’n ou skoolvriendin, Rachelle de Bruin, weer ná al die jare kontak maak en ek uitvind sy doen iets wat ek nog altyd graag wou doen.

Sy het so ’n paar jaar gelede haar werk bedank en begin hoede maak!

Ons het afgespreek dat sy my sou touwys maak, en daar loop ek toe ’n “kursus” by my maatjie, wat die laaste paar jare in Darling woon.

Dit was ’n besonderse ervaring om iets te leer doen en jou handewerk te sien – iets wat ’n inkomste kan genereer.

Met die onsekerheid die laaste tyd van mense wat vandag in ’n permanente werk is en heel moontlik oor ’n maand of so afgelê kan word, is om jou eie besigheid te begin dalk iets om oor te besin. Beste wense!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters