4 maande gelede
Vader tyd kan dit nie wegvat

’N REÜNIE is ’n sosiale byeenkoms wat ’n groep mense ná ’n sekere tydperk bywoon. Soos die Engelsman sal sê: “It’s nothing more than a moment in time!”

Dis ’n oomblik om ou gedagtes te deel en om al die ou bekendes weer te sien. Om die samesyn en staaltjies uit vervloë dae te geniet.

Ja, dis ook ’n geleentheid om te kyk wie gewig aangesit of verloor en wie grys of bles geraak het.

Ek was op 12 April bevoorreg om as gasspreker op te tree by ’n groep polisiebeamptes se reünie. Hulle het hulle 20 jaar in die polisiediens herdenk. Die spesiale geleentheid is in die Dennebossaal by die Brandvlei­gevangenis naby Rawsonville gehou.

Dié polisiebeamptes is almal op 12 April 1999 aangestel as polisie­wagte. Hulle het diens gedoen by die eenheid vir Baie Belangrike Persone in Kaapstad.

In 2000 is hulle almal as volwaardige beamptes by die polisie ingelyf.

Maar in die afgelope 20 jaar het baie dinge verander …

Hulle is intussen bevorder. Sommige is verplaas na ander afdelings in die organisasie of na ander departemente.

Dan is daar weer dié wat poste in ander dorpe of provinsies aanvaar het.

Met ander woorde, die paadjies van die eens hegte groepie van 1999 het deur die jare geskei.

Nou, ná 20 jaar, is sommige weer danksy die sosiale media opgespoor. Daar is hard beplan aan die reünie, wat deur baie as ’n mylpaal in hulle lewe beskou is.

Die oomblik wat my hart warm laat klop het, was toe ek die vreugde op hulle gesigte sien toe hulle weer hulle ou kollegas en vriende sien.

Drukkies is uitgedeel en ek moes net regstaan om die geleentheid op kamera vas te lê. En die kleredrag was iets soos uit ’n modetydskrif.

Ná die toesprake en vertel van staaltjies het ’n hartseer-oomblik aangebreek. ’n Kers is aangesteek om die kollegas te huldig wat intussen in die diens afgesterf het.

Van die name wat genoem is, is Gerhard Fortuin, Chris de Vries, To­rien Ahrends, Franqen Holland, Lydia Snell, Juleigha Baadjies en KC Fesi.

Dié lede het hulle bes gegee vir die organisasie.

Ek is by vele events ’n gasspreker, maar dié reünie is definitief een om te onthou.

Deur hierdie reünie het ek geleer geen afstand of tyd kan die hegte band breek tussen ’n groep mense wat vir mekaar omgee en mekaar liefhet nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters