Verlede jaar
So beduiwel jy kinderspel

‘DIE messe is geslyp en vandag gaan ons nét slag! Net die vel gaan ons hou om te brei en te verkoop vir ’n appel en ’n ei!”

Ek het geweet ek is op die regte plek, maar dié woorde oor die mikrofoon het my ongemaklik laat rond loer of daar dalk een of ander kulturele seremonie vooraf gaan plaasvind.

Maar nee, dis hoe die tuisspanne aangemoedig word om maalvleis van die opponente te maak.

Dis tóg die rugbyveld, het ek gedink, maar dit het geklink of ek ’n onwillige toeskouer in ’n teater is waar ’n bloedige stryd hom voor my oë gaan afspeel. Ek en bloed is nie tjommies nie.

Ek kyk toe of daar darem ’n ambulans langs die veld is, want sekerlik gaan hierdie titaniese stryd sy aantal slagoffers eis... Maar die nooddiens skitter in sy afwesigheid.

Eers draf die kannetjies op. Dié bloedjies weet so min van die kultuur van ’n derbystryd as ’n kat van saffraan, maar daar word ’n kringetjie gemaak en die afrigter sweep hulle op soos ’n generaal met sy troepe.

Aan hulle lyftaal sien jy sommer hulle is fully charged soos Duracell-batterye, terwyl hulle ’n oorverdowende oorlogskreet uitvoer. Nou’s dit aan in Japan!

Is dit nodig om leerders so op te werk wanneer twee laerskole mekaar pak? En wat weeg die swaarste – die wenmotief, of vriendskapsbande wat met leerders van buurskole gesmee word?

Ek het gewonder of dit dalk oor meer as die rugbystryd gaan en of leerders gebruik word as kanonvoer in ’n epiese stryd van grootmense se ego’s.

Ek het die twee spannetjies jammer gekry wat dapper probeer het om hulle beste spel te lewer onder luide aanmoediging van hul ouers en medeleerders.

Maar toe beduiwel die onnie met die mikrofoon in die hand weer alles deur weer te praat van messe, slag en bloed. Ek het amper naar geword, want in ’n laerskool-rugbywedstryd moet nie eens ’n graskol uit sy plek getrap word nie!

Dis immers laities wat nog die spel aanleer! Hulle moet tog ruimte gegee word vir foute deur die bal aan te slaan of mis te vang.

Maar nee, die onnie met die mikrofoon verbeel hom hy’s die drilsersant wat sy rekrute aanmoedig om die laaste bietjie suurstof uit die buurskool se spelers te trap. Verkeerde optrede van grootmense stuur dikwels die verkeerde seine aan kinders.

Vir ’n laerskool-rugbyspelertjie moet ’n sportveld nie ’n slagveld word waar hy sy opponent in die grond moet boor nie. In die klas is leerders dan so mooi geleer sport bou vriendskapsbande en ’n mens moet nederig wees in jou oorwinning en nederlaag.

Wat opvallend was, is dat nét die name van die tuisspan-spelers oor die mikrofoon uitgesaai is, asof hulle die enigste span op die veld was. En dit was tog nie moeilik om ’n spanlys van die buurskool se spelers te bekom nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters