Verlede maand
Skole in bose kringloop

ONS onderwysstelsel is nie perfek nie.

Kurrikulums verander gedurig en opvoeders moet bek hou en inval sonder verduideliking oor waarom voriges misluk het.

Die stelsel ploeter voort, al kan leerders nie lees, spel of ordentlike gesprekke voer nie... Teen gr. 4 het hulle nog nie basiese wiskunde of leesbegrip baasgeraak nie.

Die huidige kurrikulum is gemik op leerders wat akademies presteer. Dit berei hulle voor op tersiêre inrigtings.

Die meeste leerders sal nooit die drumpel van ’n kollege of universiteit sien nie. Ander val halfpad uit omdat die kurrikulum nie voorsiening maak vir die passie in hulle hart nie.

Dis tog ironies dat baie akademiese “onderpresteerders” hulle in ’n rigting slyp en hulle passie uitleef deur suksesvolle entrepreneurs te word!

Die sterker akademiese leerders kom soms nie die mas op in tersiêre rigtings waarin hulle eintlik gedwing is nie.

Menige leerder val ná matriek deur die stelsel se krake. Die onderwysdepartement is min gepla oor dié leerders en hoe hulle gaan oorleef.

As leerders werklik eerste gestel word, sou daar naskoolse opleiding wees vir hulle opvoeding en verdere studies (in watter rigting ook al).

Ons samelewing is so egosentries. As individue dit tot op die kruin maak, kyk hulle nie terug na medeleerders wat “gesneuwel” het nie. Hulle sien dikwels neer op medeleerders wat nie tersiêre opleiding gekry het nie.

Deesdae gaan dit oor hoeveel geld en materiële dinge jy besit, jou blink motor, dubbelverdiepinghuis en enorme swembad.

Gestroop van enige menslikheid raak dit ’n bose kringloop van wenners en verloorders. Hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê – al trap jy ook op ander om bo uit te kom...

Dis geen sonde om te presteer of bo uit te kom nie. Maar vra jou af: Hoe het ek hier gekom? Deur eerlikheid en opregtheid? Sonder om mense in die rug te steek en op ander neer te sien net omdat hulle nie op my vlak is nie?

Of het jy mense onder die bus gesmyt om te bereik wat jy wil bereik?

As dit die tweede opsie is, sal jou sukses nie lank duur nie. Waar hebsug en egoïsme jou menslikheid versmoor, sal jy later met die aarde kennis maak!

Leerders word ook nie voorberei op mislukkings nie. Ons skole maak nie voorsiening om leerders geestelik sterk te maak teen die lewe se aanslae nie. Dis waarom leerders soms ’n toevlug soek in drank en dwelms om uit ’n uitsiglose bestaan te ontsnap.

Niemand het ná matriek met hulle doen en late te make nie. Jy’s klaar met die skool. En die skool is klaar met jou. En die onderwysdepartement is klaar besig met nuwe inskrywings vir volgende jaar – om die bose kringloop voort te sit vir nuwe slagoffers van sy gekraakte stelsel!

Die departement sal moet wakker skrik en die realiteit in sy geheel sien.

Só kan dit nie voortgaan nie. Dan wonder ons hoekom die SA jeug hulle onopsigtelik deur die krake van die samelewing te pletter val.

’n Afgetrede opvoeder by ’n skool in Franschhoek het uit haar eie sak medaljes vir alle matrikulante (dié wat geslaag én gedruip het) laat maak.

Omhels

Ek was as gasspreker aangedaan toe die matrikulante elk ’n medalje en sertifikaat ontvang. Die druipelinge en dié wat geslaag het, het op een verhoog gestaan en mekaar omhels. Want ondanks haglike omstandighede het ’n hulle ’n goeie poging aangewend.

Die presteerders sal nie ’n kans kry om op hulle neer te kyk nie.

En so het daardie juffrou die moraal van die sogenaamde druipelinge gelig en hulle selfbeeld probeer herstel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters