4 maande gelede
Seun vleg sy weg tot UWK

SY ALMA mater, die Sekondêre Skool Hexvallei, se leuse “Opvoeding Bevry” is steeds sy rigtingwyser.

Ja, Duncan het sommer baie ma- en pa-figure in ons land se mooiste wingerdvallei.

Hy vertel trots dat sy skoolhoof, Arnold Mei, en onnies soos Henry Cornelius, Howard Karriem, Riaan Bothman en Eben Levendal hom gemotiveer het om sy drome na te jaag.

En dan klop Duncan se hart ook tjoklits vir juffrouens Roelien van Heerden, Deidré Springveldt en Lee Peterson, want hulle het by hom self­vertroue ingeboesem. Want sien, toe sy selfvertroue geknou is, het hulle met hand en hart uitgereik.

Sy ma, Marcelle, is sy steunpilaar wanneer sy lorriedrywer-pa die lang pad aandurf om brood op die tafel te sit.

So het Ma Marcelle dan ook trots langs Duncan gestaan toe die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit hom ’n meriete-toekenning vir sy matriekprestasies gebied het.

Hy studeer nou LLB aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), want hy wil graag ’n menseregteprokureur word. En soos sy rolmodel, adv. Tembeka Ngcukaitobi, spog hy ook met ’n klos dreadlocks.

Duncan sê: “Varsity is nie ’n walk in the park nie. Dis ’n reuse-sprong van hoërskool tot daar. ’n Mens moet heeltyd fokus, of jy sleep swaar.”

Maar Duncan is gewoond aan on­gerief, so hy cope met die kampuslewe.

Hy is in Robertson gebore waar die gesin byna sewe jaar gewoon het. Toe trek hulle Eersterivier toe, en omdat sy skoolloopbaan onderbreek is, moes hy van voor af aanpas by die nuwe skool.

Ná ag jaar in Eersterivier het die gesin verhuis terug platteland toe, na De Doorns, waar die Matroosberge in die somer potblou en in die winter sneeuwit is en jaloers waak oor die Hexvallei.

By sy nuwe hoërskool moes hy sy vakkeuse verander, want hy was in ’n fokusskool vir kuns en kultuur.

Dit het hom egter nie ondergekry nie, want dáár het hy geleer om die Hexiedroom uit te leef.

Maar dis nie maklik om in die Stofland-woonbuurt groot te word nie, veral omdat die Hophuisie soms te klein is vir alleentyd.

Ondanks die omstandighede het hy die N1-snelweg getrou oorgesteek om skool toe te gaan.

Wanneer hy in 2022 in die UWK se main hall staan om graad te vang, moet Ma Marcelle weer daar wees om sy prestasie te vier.

Hy wil die eerste prokkie van Dipuo Letsatsi-Duba-straat en ’n rolmodel en mentor vir sy tydgenote wees.

Duncan besef hoe bevoorreg hy is, want hy is die heel eerste kind in sy gesin wat aan ’n hoër opvoedkundige inrigting swot.

Anders as van sy skoolmaats hoef hy nie as ’n seisoenwerker op ’n druiweplaas te werk nie.

Hierdie toekomstige lawyer sê egter gou: “ ’n Mens moet nooit jou roots vergeet nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters