4 maande gelede
Roudiens vol van kultuur

AS DIT by tradisie kom, dink ek ons ruk die matjie onder die voete uit van diegene wat in waansin dink ons het nie kultuur nie.

Want sien, nou die aand het die uwe die roudiens van ’n tjommie se pa gaan bywoon. Ander noem dit ’n troosdiens. Daardie diens wat gewoonlik die Donderdag voor die begrafnis van die komende Saterdag gehou word. Sommer daar in die voorhuis van die oorledene.

Die huis was reeds vol. Sommige van ons sit buite op stoele. Dan bring die kerkbroers die musiek in. Groot sound-bokse. ’n Keyboard-speler skuifel agter sy keyboard in. Begin tokkel. Dan begin die skouspel van liefde en troos te midde van seer. Seer oor hom wat nie meer daar is nie.

“Julle moet moed hou, julle moet moed hou, julle moet moed hou, want Jesus kom weer.” Die drums van die keyboard ruk al harder. Dis asof die twee-lyntjie-koortjie en die musiek jou na ’n hoër geestelike level neem.

Voetjies klop op die maat van die musiek. Deur die venster sien ek hoe die korterige pastoor juig en dans. Al in die rondte. Die roudiensgangers sing al harder. Vinniger. ’n Broer hou sy Bybel met sy linkerhand styf teen sy bors vas. Onder sy hart. Iewers vee iemand ’n neus af. Dalk van die koue wintersaand in die Karoo. Dalk hartseer.

Iewers in ’n hoek sit antie Martha, vrou van uncle Roy, die oorledene. Nou die dag het sy vir my gesê: “Meer as 50 jaar saam ... skielik alleen.” Die dienende Martha. Só ken die straat se mense haar. Die uncle was die jokey ou. Die ewige optimis wat net skielik huis toe is. Die evangelis roep skielik uit: “Net die wit gewastes gaan huis toe!” “Amen!” hoor ek hoe van die roubeklaers dit beaam.

Die evangelis bid vir die reën wat daardie dag geval het. Hy remind die roudiensgangers hoe daar juis die Sondag gebid is oor die “dreuning van groot waters”, want ons ervaar oral groot droogtes.

Dan is dit weer musieke. Hierdie keer is die musiek stadiger. So asof daar gereed gemaak word vir groot afwagting: “Lead me, oh Lord, won’t you lead me,” sit die keybord-speler in. Dan ’n geleentheid vir susters en broers om die treurendes te vertroos.

’n Vrou met ’n skerp stem herinner die mense: “Kyk om en help mekaar, ondersteun mekaar.” Dan laat val die key­board-speler weer so ’n paar los note. Die roubeklaers is nou weer aan die brand.

Die pastoor kry sy beurt om die troosboodskap te bring. Maar eers word daar weer ’n koortjie ingesit – net twee reëls wat oor en oor herhaal word. Die keyboard-speler geniet hom gate uit.

Die boodskap ruk. Dit ruk en pluk aan die hartsnare. ’n Mens kry die geleentheid om aan jou eie dood te dink. Jy dink aan die dood van jou eie geliefdes.

Ek kyk weer na die weduwee van die oorledene. Ek wonder wat deur haar kop gaan. Ek sien hoe susters om haar rally. Dis so asof hulle engele is wat antie Martha se arms omhoog wil hou.

Die boodskap van die pastoor – hy is kort van postuur – sny deur murg en been. Hy kyk die weduwee diep in die oë: “Suster, jy moet vashou. Suster, as jy jou geliefde Roy weer wil sien, moet jy vashou. As jy hom weer wil omhels, moet jy vashou!”

Antie Martha knik haar kop twee keer en vee ’n traan af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters