2 maande gelede
Pedro skryf toekoms oop

EK HET die wêreld se re­spek vir mense wat uit hulle pad sal gaan om bo hulle omstandighede uit te styg.

Mense wat nie die hele tyd swaarkry en armoede as verskoning voorhou nie. Mense wat bereid is om opofferings te maak en daardie tweede myl te stap.

Ja, dit gaan soms sukkel-sukkel en dis nie altyd maklik om die pot aan die kook te hou nie.

Die lewe is duur en dit kos omtrént jou sente omdraai net om kop bo water te hou. Tog bewonder ek mense wat hulle talente gebruik in ’n poging om hulle lewensomstandighede te verbeter.

Winter

Kykie, van swaarkry kan niemand my niks vertel nie. As ek moet begin uitpak oor my moeilike kinderjare, gaan dié spasie hopeloos te klein wees.

Maar ek wil nie soos ’n klakous klink nie en boonop gaan vandag se skrywe nie oor my nie.

In die winter van 1985 is Neville Pedro op ’n plaas in die Koue Bokkeveld gebore. Al was hy sy ma se enigste kind, het dit nie altyd goed gegaan by die huis nie. Hy het sonder ’n pa grootgeword.

Neville het die skool in gr. 10 byna verlaat, want sy ma was werkloos en hy wou inspring om te help.

Gelukkig vir Neville het ’n koshuishoof, Manie Mars, sy potensiaal raakgesien en hulp aangebied.

“Ek het weer my ritme gevind en kon op my skoolwerk fokus,” vertel hy.

Neville het toe sy negatiewe siening oor die pad vorentoe uit sy agterkop gekry en sy skoolloopbaan by die Sekondêre Skool Skurweberg voltooi.

Neville (of Boetie Nef, soos hy onder sy vriende bekend staan) vertel dat sy liefde vir die digkuns reeds op laerskool gekweek is. Hy sonder groot geeste soos Antjie Krog, Breyten Breytenbach en Adam Small as sy rolmodelle uit.

Nadat hy van sy gedigte op Facebook begin plaas het en die reaksie groter as ’n veldbrand was, het hy besef hy het iets beet.

Vandag kan die beskeie Neville na homself as ’n gepubliseerde digter verwys, want sy debuutbundel, Psalms van ’n Plaaskind, het pas die lig gesien.

Die bundel bevat 70 gedigte en die belangstelling is reeds oorweldigend.

Hy kan nie uitgepraat raak oor hoe trots sy vriende en familie op sy prestasie is nie.

Wat Neville se storie so merkwaardig maak, is dat hy steeds op ’n plaas bly.

Hy is die eggenoot van Portia Pedro en die pa van ’n seuntjie genaamd Elquin. Hy werk by Kaap Agri in Ceres.

“Met my bundel wil ek plaaskinders verseker dat hulle drome ook waar kan word, al het ek self nooit gedink ek sal so iets bereik nie.”

Toe ek by Neville verneem of hy enige raad vir ander onbekende digters het, was sy reaksie as volg: “Om ’n droom net agterna te kyk, is tevergeefs.

“As jy jou droom najaag, beteken dit jy het opgestaan tot die oorwinning.

“Vat Jesus en jou eenvoud saam. Omstandighede moet jou aandrywer wees tot jou groot deurbraak.”

Wel, as hierdie woorde nie as aansporing dien nie, weet ek nie wat anders sal nie.

Knap gedaan, Neville Pedro. Jy het gearriveer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters