7 maande gelede
Opvoeding is prysloos

NÁ BAIE jare loop ek nou die middag in ’n ou skooltjommie vas.

Dit was ’n paar dae nadat die Springbokke die Webb Ellis-trofee vir die eerste keer omhoog gehou het.

Ons raak aan die gesels en meteens is ons terug in ’n tyd uit die verre verlede.

Name van mense met wie ek lankal kontak verloor het, duik in die gesprek op.

’n Soort skuldgevoel krap aan my omdat ek so te sê geen moeite doen om ou vriende op te spoor nie.

Aan die ander kant voel ek ook dankbaar vir nuwe vriende.

Ons gesels oor die rugby en die Bokke se kanse om oor vier jaar in die volgende Wêreldbeker-toernooi ’n nóg beter span as die huidige een te wees.

Ek lag hard toe hy ’n grappie maak oor die All Blacks wat vanjaar met die houtlepel tevrede moes wees.

Een van die merkwaardigste goed waarna hy verwys, is Blue Mountains Primêr, ’n eenvoudige plaasskooltjie in die Durbanville-omgewing.

Dis dieselfde skool waar ek van sub A tot std. 4 onderrig ontvang het.

“In daai dae sou ons nooit kon raai daar gaan eendag van graad dit en graad dat gepraat word nie, nè?” sê hy.

“Wys jou net hoe die tye verander het.”

Hy verneem na die welstand van oud-Blue Mountains-skoliere soos my broer Errol en my neefs Bernard en Johan.

Ek vertel hom dit gaan goed met Errol, dat ek vir Bernard vyf jaar terug op my ma se begrafnis gesien het en dat Johan ongelukkig nie meer met ons is nie.

Hy val byna agteroor toe ek noem ek het onlangs vir juffrou Eva Johnson en juffrou Dina Cornelissen op Facebook raakgeloop en dat die doodsengel vroeër vanjaar vir juffrou Patricia Petersen kom haal het.

Sanggroep

“Sout-van-die-aarde-leerkragte daai,” sak hy af. “Streng maar nooit onredelik nie.

“Ek onthou hulle het elke dag uit Wellington gereis om seker te maak ons plaasjapies styg bo ons omstandighede uit.”

Ek vertel hom hoe my planne om as lid van ’n sanggroep in Spanje te gaan optree, deur die mat geval het en hoe teleurgesteld ek was.

Ook lig ek hom in van my skryfwerk en van my jeugroman, Puntemasjien, wat in byna elke boekwinkel beskikbaar is.

Toe bars hy in trane uit en bieg oor sy verkeerde vriende, verkeerde keuses en sy jare in die tronk.

Hy noem ook dat sy lewe nie meer dieselfde is vandat hy die Here ’n kans gegee het nie.

“Die seerste is dat my eie familie hulle rug op my gedraai het, maar ek glo hulle sal my weer aanvaar. Ek is nou ’n nuwe mens.”

Met die wegstap staar ek hom lank agterna.

Hy het sommer talle herinneringe teruggebring.

Ek is bly die lewe gee hom ’n tweede kans. So iets is nie almal beskore nie. So baie jongelinge sien nie eens hulle 21ste verjaardag nie.

En ek sê vir myself: As ek vandag weer sub A toe kan gaan, sal ek nêrens anders as by Blue Mountains Primêr wil wees nie.

Dáár, tussen die armoede en die dennebome, is die saadjie vir my skryfwerk geplant.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters