10 maande gelede
Omgee is nie net gee nie

VOEL soos onlangs dat ons Paasfees gevier het (die kerrievlekke kleef nog hardnekkig aan my va­doeke!) en hier gaan ons al weer amper Kerstyd binne.

Dis ’n tyd waarna baie van ons uitsien, veral die kinders. Vir hulle is daar die vooruitsig van skool­vakansie, nuwe klere en geskenke.

Ander, soos ek, sien weer uit na ’n welkome ruskans om ontslae te raak van die jaar se bagasie en batterye te herlaai om volgende jaar vars te begin.

Die feestyd is egter ook een van gee en omgee. Vorige jare het ek dit my plig geag om op Kersdag kos te gee aan behoeftige gestremdes.

Dié gebaar het my en my familie se lewe verryk en nog nooit het Kerstye vir my soveel diepe betekenis gebied nie.

Net om die dankbaarheid in mense se oë te sien, is ’n seëning, maar aangesien inflasie bly styg, word dit elke jaar al hoe moeiliker om te gee.

Dit gaan broekskeur, maar wanneer ’n mens jou kos geniet en jy dink aan ál die honger mense daar buite, proe dit galbittter.

Ek dra by tot heelwat Facebook-gemeenskapsblaaie, en daarop word baie gegee en omgegee vir mekaar, veral onlangs met die matriekafskeid.

Sodra ’n behoefte uitgesonder is, het die skenkings ingestroom. Kinders en ouers se harte is verbly en goeie herinneringe is geskep. Dít alles word moontlik gemaak deur mense met oop harte en oop palms.

Dan is daar gemeenskappe wat regtig gebuk gaan onder armoede. Ek lees die laaste paar maande op Facebook dat iemand smeek vir hulp met kos, klere of bydraes vir gestremdes.

Dit klink asof dié pleidooie op dowe ore val, want daar is weinig reaksie op sy versoeke.

Dit laat ’n mens met gemengde gevoelens. Jy besef mense kan nie meer net gee soos voorheen nie. Hoe help jy ander wanneer dit soms voel jy het self hulp nodig­?

Die spreekwoord lui “gee jou laaste vir jou naaste”, maar hóé, terwyl die ekonomie so ongunstig is?

’n Muntstuk het twee sye (as jy gelukkig genoeg is om een te hê, bygesê) – heads, mense wat regtig swaar kry, en tails, mense wat op jou teer, gemaklik daarmee is om net te vat.

Iemand het een keer iets gesê wat my baie diep laat dink het: “Ek sal nooit ’n sop­kombuis begin nie, want ek dink te veel van die mense in my gemeenskap.”

Ek was eers geskok oor dié uitlating, maar later het dit vir my begin sin maak. Dit was iets soortgelyks soos “moenie iemand ’n vis gee nie; leer die mens eerder hoe om vis te vang”.

Is dit nie wat ons eerder moet doen nie? Deur te gee, maak jy mense afhanklik. Wat as jy nie meer in ’n posisie is om te kan gee nie?

Ek dink ons moet ons aanslag ver­ander en mense leer om self­onderhoudend te wees en by te dra tot die ekonomie, pleks daarvan om hulle gratis te voed en te klee.

Ons moet maniere vind om te ver­hinder dat ons gemeenskappe nie nog meer verarm nie. Om die bakhand-mentaliteit te verander, moet ons mense­ hulle trots laat herwin en hulle help bou aan ’n positiewe toekoms.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters