7 maande gelede
Meisa, jou ma was tog reg

LIEWE meisie met die amandelbruin oë, jy is nou weens jou keuse deel van die ongewildste statistieke.

Ek wens jy kon jou ma se rou binneste sien terwyl sy die trane in haar flou oë dapper afvee en haar flenter hart probeer gom.

Die koue wêreld, wat jou in sy maalkolk ingesuig het, draai steeds ongestoord voort ...

Jou rebelsheid het die noodlot se kollig op jou laat skyn. Onthou jy hoeveel keer jou ma wakker gelê het omdat jy nie veilig tussen die vier mure was nie?

Gestrompel

Het jy darem telling gehou van hoeveel keer jy haar op haar knieë in die kamer gesien én haar gehoor het wanneer sy jou naam hardop noem in haar smeekgebed?

Die laaste aand voordat jy by die voordeur uit gestrompel het, het sy uit Spreuke 15:24 gelees: “Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk...”

Maar jy het dit dalk nie gehoor nie, want die wêreld se eindelose pret en duiwelse plesier het oorverdowend in jou kop lawaai.

As jy maar geluister het, dan sou die doodsengel nie in die oggendure langs jou boyfriend se kar gestop het nie.

Toe daar vir jou “gepreek” is om die skollie met die diamant-tande en goue vingers uit jou jong lewe te sny, het jy soos ’n steekse arabiermerrie vasgeskop. Jy het gegil dat jy hom lief het, want jy het nog nooit só oor ’n man gevoel nie.

Jou ma het jou waarsku dat hy nie ’n man is nie, want sy kon aanvoel jy was sy jeukerige vuiste se slaansak.

Jy’t hom verdedig, al het hy hom soos ’n vark gedra.

Hy sou jou ook nooit beskerm nie, al was hy tot sy vals­tande bewapen.

Maar jy het haar pleidooie, vermanings en gebede geminag.

Jy wóú met hom wees, terwyl jy geweet het hy is ’n dikding van die Lost Boys gang.

Jou gryse ma was nie paranoïes nie, want nes sy vyande, die Bad Boy Killers, kon sy die spykertjappies op sy bors ’n myl ver lees.

En toe julle daai oggend in ’n donker straat in die kar sit en gesels oor julle “toekoms”, het sy skollie-tong julle verloën.

Hoe kón jy dit oor jou lippe kry om te brag dat hy ’n gentleman is!? Hóé kon jy dit verdoesel wanneer sy jaloesie beheer geneem het en hy jou pimpel en pers verniel het!?

Jou tjommies het baie keer gesien hoe hy jou in die grond skop en drop soos ’n rugbybôl, maar hulle het skaamteloos zip gekap.

Het jy geweet van die skrikbewind wat hy gevoer het en dat hy en sy trawante laksman gespeel het?

Gaan jy hom steeds ophemel en sê hy was nóg ’n skollie nóg ’n vroueslaner? Ongelukkig sal jy nóóit weer die geleentheid kry nie, maar miskien red jou storie minstens een jong meisie.

Want sien, daai oggend was dit nie jou wens om in ’n koeëlreën te sterf terwyl daai skollie se loaded gun veilig in die paneelkissie toegesluit was nie ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters