2 maande gelede
Mediese staff is bobaas in SA
Cropped shot of an unrecognizable female nurse com
(iStock)  ~ 

WANNEER jy met die gesondheidsdienste van ons land te doen kry, besef jy eers die waarde van die engele in die spreek­kamers, klinieke, hospitale en ambulanse.

So dikwels staan dié barmhartige Samaritane aan die ontvangkant van ons kritiek. Van hoe lui hulle is. Van hoe ongevoelig en onsimpatiek hulle is. En so kan ek voortborduur.

Dit was veral tydens die gesprekke oor die Nasionale Gesondheidsorgversekering se voor- en nadele dat die spil waarom alles draai, die gesondheidswerkers, se waarde besef is.

’n Mens se gesondheid is nie in jou hande nie. Al leef jy ook hóé gesond. Al probeer jy volgens die beste gesondheidsinstruksies leef.

’n Mens se gesondheid is onvoorspelbaar. Een oomblik het daai meisie nog ’n marathon gehardloop. Die volgende oomblik sterf sy op die atletiekbaan.

Soos daardie dag toe jy jou hospitaal toe moes haas omdat jou antie skielik besig was om die tydelike met die ewige te verwissel.

Het jy ál die gebede in jou gebedeboek al gebid vir die siekes? Het jy al ’n getuienis gelewer van hoe God begin het daar waar dokters moed opgegee het? Al gehoor hoe mense sê “ ’n mens se lewe is nie in die hande van die dokter nie, maar in dié van die Groot Geneesheer”?

Maar die besef is natuurlik daar dat die Skepper juis dokters gebruik om Sy handewerk op aarde fisiek in stand en in ’n gesonde kondisie te hou?

Al gedink aan die lang ure wat nooddienswerkers agter die stuur van ’n noodvoertuig moet deurbring om betyds op ’n toneel te kom en dan weer betyds by die hospitaal te kom?

’n Besoek aan jou plaaslike geneesheer kan dalk net die begin wees van ’n reis deur die hele spektrum van gesondheidsorg.

Dis daar in die dokter se spreek­kamer waar ek telkemale met dankbaarheid dink aan die uiters professionele diens wat ons ontvang.

Gebedjie

Van hoe daai dokter in wit (ja, oukei, almal dra nie meer daai kenmerkende wit jasse nie) sy allerbeste vir sy pasiënte gee.

Die Hippokratiese eed waaraan hulle trou sweer, is deel van hulle DNS.

’n Besoek aan ’n dokter se praktyk het my ’n gebedjie van dank opwaarts laat stuur.

Daai dokter is reeds bejaard, maar kan nog nie aftree nie omdat daar deesdae nie genoeg mediese dokters en spesialiste is nie ...

Dis tyd dat ons hulle bewonder en opdra aan die Groot Geneesheer.

Vra my. Vra vir die oom en antie wat slegte nuus kry, maar deur goeie behandeling ’n paar dae later weer perdfris en gesond is.

Soms staan ons by die primêre gesondheidsorgklinieke in lang rye soos by ’n verkiesing.

Troos jou egter daaraan – die handjievol wat daar diens doen, kry nie eens ’n tea break nie.

Hulle moet sommer hulle teetjie staan-staan drink.

En al hoor hulle hoe hulle gekritiseer word – “kyk hoe staan en gesels hulle; hulle word mos betaal” – probeer hulle steeds sorg dat hulle pasiënte die beste diens kry.

En weet jy, hulle huil ook van moegheid. Hulle het ook gesinne wat saans nog hulle aandag moet kry.

Het die uur nie dalk geslaan dat daar iewers in ons land ’n moderne monument ter ere van ons getroue gesondheidswerkers opgerig word nie?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters